Local newsNewsNews

‘n Soet dankie vir Mediclinic Emfuleni

VANDERBIJLPARK. – Vrydag, 21 Augustus ontmoet ek die Rotariër Klub van Vanderbijlpark se president, Sonja Gilliland en haar mede-Rotariër, Celeste Lance, voor Mediclinic Emfuleni se hoofingang.

Gerda Bruinette

Bokse met fudge balanseer op die paaltjies. Net voordat ons die bokse kan vasvat om in te dra, staan ‘n ouerige man nader. “Waar gaan julle nou met die?” wil hy weet. “Dis vir die personeel wat almal so hard werk tydens die pandemie,” kry hy die antwoord.
“Goeie idee” en die oom se oë versag agter die masker, “hulle het mos so mooi na my ook gekyk. Ek het 10 dae hier gelê met die virus. Dis ‘n vreeslike ding.” Die oom staan so bietjie terug dat ons voor hom by die deur kan ingaan.

Om by ‘n hospitaal in te gaan is in die laaste tyd mos ‘n hele gedoente. Soos by enige ander besigheid, moet hulle koors neem en hande spuit en dan is daar die vorms en groot verduidelik oor waarheen en hoekom jy nou eintlik wil ingaan.

Ek wonder nog hoe ons dit gaan doen, want ons hande is vol en ek knyp nog my notaboek en motorsleutels vas, terwyl ek bid die kamerasak val nie van my skouer af nie. Kudus vir die personeel by die ingang van Mediclinic Emfuleni wat nie ‘n oog geknip het oor die vreemde petalje nie. Die enetjie, in die geharwar het ek vergeet om haar naam te kry, vat galant die bokse so met haar een hand en spuit gou jou hande met die ander. Wag ook eers ‘n sekonde of drie om seker te maak jy vryf darem die goed nou behoorlik in voordat sy weer die bokse netjies op jou hande terugplaas.
Een loop ook sommer dadelik voor om vir ons die regte rigting aan te wys tot by die kantore. Eileen de Beer, Henda van der Merwe, Janine Arendse en Lebo Ntlekoa neem die soet lekkerte in ontvangs namens al die personeel van Mediclinic Emfuleni. Hulle sal seker maak almal kry hul toegedraaide fudge met ‘n dankie-briefie by.

Die fudge-projek was ‘n spanpoging. Die Rotariërs het die bestanddele geskenk en NG Kerk Vaalrivier se Vroue vir Jesus (VVJ) het die 600 blokkies fudge gemaak en verpak. Sommer net om dankie te sê sodat die voorste linie mense weet, die mense buite die hospitaalmure weet en is dankbaar vir wat hul doen. “Ons is bly daar is nog mense wat vir ons bid en aan ons dink,” sê Henda van der Merwe, die verpleegbestuurder en die moeg slaan so bietjie deur in haar stem. Ek voel lus om die kamera te los en te sê “sit, rus, eet ‘n blokkie fudge, ek gaan tee maak,” maar ek hou my in en knik net my kop instemmend. Covid-19 regulasies het ons verhoed om self die fudge te kon uitdeel, maar die opheldering in die vier paar oë agter die maskers het reeds boekdele gespreek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button