Vanderbijl-inwoner al 8 maande sonder krag
VANDERBIJLPARK. – In Desember 2019 het ‘n weerligstraal die groen elektrisiteitsboks reg voor Fabrice Facar se huis in CW6 getref en sy huis sonder elektrisiteit gelaat. Hy het die probleem gerapporteer en munisipale werkers het uitgekom om na die probleem te kyk.
Gerda Bruinette
Ongelukkig is dit ook hier waar dinge verder begin het om skeef te loop. Volgens Fabrice het die werkers nadat hul by die boks buite doenig was, by sy huis ingekom om te kyk wat gaan binne met die kabels en bedrading aan. Die meterboks is oopgeruk, die muur is stukkend geslaan, die kabels gesny en een van die werkers het homself na bewering ook aan Facar se wyn gehelp. Die man het glo sy roes op een van die beddens afgeslaap en is net so deur die ander gelos.
Fabrice en ‘n buurman het na bewering verskeie kere die polisie gebel, maar die het nooit opgedaag nie. Die volgende dag het dieselfde munisipale werkers weer opgedaag, maar die keer gesê dat Fabrice hulle privaat moet betaal om weer die elektrisiteit te konnekteer en die kabel wat in die pyp afgeval het, uit te haal. Fabrice het geweier en hulle gerapporteer. Daarna het die groot stryd begin om die munisipaliteit so ver te kry om die probleme wat hul veroorsaak het, te kom oplos. Dit is nou agt maande later en die huis is steeds sonder krag en warm water. Tussen die kombuis en die aangrensende kamer is daar ‘n groot gat in die muur.
Hy sê hy gaan sien die munisipaliteit ten minste elke twee weke en het al met verskeie mense en bestuurders gepraat en bewyse van die skade aan hul oorhandig, maar steeds is die probleem nie opgelos nie. Die munisipaliteit beweer hy het die mense in sy huis toegelaat en dat dit dan nie meer munisipale domein is nie. Die skade is dus nie hulle verantwoordelikheid nie. Intussen het hy al privaat elektrisiëns gekry om kwotasies te gee, maar kon tot dusver nie een kry wat bereid is om die gemors uit te sorteer nie, aangesien dit klaarblyklik die munisipaliteit se verantwoordelikheid is.
Fabrice is moedeloos. Hy sê hy wil nie baklei nie, al wat hy vra is om weer elektrisiteit in sy huis te hê. Hy is bereid om self die muur wat hul gebreek het reg te maak. Hy is dankbaar dat hy darem ‘n gasstoof het waar hy kan kos maak en ook vir sy bure, waaronder mnr. Stevens van Cortstraat en Anita en Hennie van Goodyearstraat wat hom al baie bygestaan het in die tyd. Hy weet nie meer wie hy verder kan kontak of wat hy nog moet doen nie. Al wat hy kry is leë beloftes en verder word die saak geïgnoreer. “Ek woon al 22 jaar in die huis en het nog altyd gemeenskapswerk gedoen en dis hoe hulle mens behandel? Dis hartseer dat niemand meer omgee nie,” het hy gesê.
