Local newsNewsNews

Twee susters maak ‘n verskil in kinderlewens

VANDERBIJLPARK. – Melinda Davids en haar suster, Felicia Sauer, het onlangs besluit om saam ‘n nuwe projek te loods wat ‘n verskil in kinders van alle ouderdomme se lewens gaan maak. Hulle het die eerste Tina Cowley Leessentrum in Vanderbijlpark begin.

Gerda Bruinette

Melinda was vir meer as 27 jaar onderwyseres en later waarnemende adjunkhoof by ‘n plattelandse laerskool in Mpumalanga. Drie jaar gelede is haar man weens kanker oorlede. Aanvanklik het sy gedink om steeds in Mpumalanga te bly, maar die verlange na haar nabye familie het net te groot geword. Sy en haar susters het in Vanderbiljpark grootgeword en daarom het sy besluit om na haar wortels terug te keer. Na al die jare in die onderwys, het sy gevoel dat dit tyd was om iets anders aan te pak. ‘n Uitdaging wat haar kan besig hou, inkomste bring en waar sy haar passie om met kinders te werk, kan uitleef.

Felicia het intussen na 32 jaar as logisitieke bestuurder by die departement van korrektiewe dienste uitgetree en was dadelik geneë om met Melinda se planne in te val. Na baie navorsing het Melinda besluit om die leessentrum te begin. “Ek het vir drie weke intensiewe opleiding by die Tina Cowley hoofkantoor in Witbank ondergaan,” vertel sy. Haar oë blink en haar hande begin saampraat as sy oor die leessentrum gesels. “Die meeste kinders het nie ‘n leerprobleem nie, wel ‘n leesprobleem. Ons help kinders van voorskool (5 jaar) tot by volwassenes om vinniger en met groter begrip te kan lees.”

Nadat die nodige evaluering gedoen is om te bepaal op watter vlak ‘n kind kan lees, woon die kind dan weeklikse 90 min sessies by die sentrum by. Die sessies bestaan uit twee klasse van 45 minute elk en word interaktief en met baie pret aangebied. Melinda hanteer die “stilsit” klas waar daar op die rekenaars stories gelees word, spoedlees geoefen word en begrip getoets word. Vir die leerlinge wat dalk skaam is om hardop voor te lees, is daar groot kleurvolle lappoppe vir wie hul dan kan voorlees en wat saam met hulle deur die les sal gaan. Na die eerste 45 minute is daar ‘n vinnige lagterapie-sessie waar almal vir vyf minute sommer net lag. Dit bring hul in die regte ontspanne luim vir die volgende sessie.

Felicia is aan bewind in die geheuesentrum en het ook opleiding in Witbank ondergaan om die klasse te kan aanbied. Dit is die aktiewe klas waar stilsit nie ‘n opsie is nie. Hier word daar gespeel en gewoel om oogspiere te versterk, hand- en oogkoördinasie te oefen, breingim te doen en sommer net pret te hê. Daar is ‘n maksimum van 10 kinders in ‘n klas en terwyl die Covid-19 beperkings nog geld, is die tafeltjies ekstra ver uit mekaar geskuif en is alle ander veiligheidsmaatreëls in plek. “Die sessies word meestal weeksmiddae aangebied. Hoe lank elke kind vir leesterapie kom, hang van die individu af.  “As ons bv. ‘n graad 5-leerling kan kry om op ‘n graad 6-vlak te lees en te verstaan, dan het ons in ons doel geslaag,” sê Melinda. “Soms is daar kinders wat net aanhou met die klasse sodat hulle hul spoedlees en begrip verder kan verbeter.”

Albei susters is baie opgewonde oor hul nuwe projek. In Melinda se leessentrum blink die rekenaars en die spesiaal ontwerpte groen en geel sleutelborde en in Felicia se geheuesentrum is daar ‘n hele kas vol interessanthede wat vir elke sessie ingespan kan word, van miniatuur glasies tot by kleurvolle handspieëltjies en mandjies. Die kinders gaan hier nie net leesvaardighede verbeter nie, hulle gaan hulself gate uit geniet by die twee vriendelike tannies.
Vir meer inligting kontak Melinda by 074 175 0176.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button