Lumie-skoolhoof lekker verras
VAALPARK. – Vrydag, 18 September was ‘n dag vol verrassings vir Lumiére Primêre Skool se waarnemende hoof, mnr. Lihan Kriel. Dit was sy verjaardag en een van sy personeellede, Juanita Swart, het besluit om hom op ‘n unieke manier te verras.
Gerda Bruinette
Hy en sy vrou Olga, het vroegoggend ontbyt by een van die restaurante in Vanderbijlpark gaan eet. Wat hy nie geweet het nie, maar sy vrou wel, was dat daar ‘n verrassing buite op hom gewag het. Sewe motorfietsryers, die meerderheid was van die MAC’S VAAL, het gereed gestaan om hom geluk te wens en agter op ‘n motorfiets skool toe te neem. Sy vrou het selfs ‘n biker baadjie vir hom gereed gehad om aan te trek vir die groot geleentheid. By die skool aangekom het die motorfietse ekstra hard gebrul en Lihan is onder luide toejuiging van die kinders, afgelaai. Die leerlinge het daarna blomme en ‘n kaart van gelukwensing aan hom oorhandig.
Tydens tweede pouse het die personeel hom met ‘n spesiale gholfverjaardagkoek met sy foto op verras. Juanita het Maandag in ‘n telefoniese onderhoud gesê almal het die dag baie geniet en dat Lihan omtrent oorlaai is met geskenke. Hy het in ‘n boodskap op die skool sê Facebookblad al die ouers en leerlinge bedank omdat hulle sy verjaardag so ekstra spesiaal gemaak het. “Dit is een wat ek nooit sal vergeet nie. Elkeen van julle is baie spesiaal en sal altyd in my hart wees,” het die boodskap in Afrikaans en Engels gelui. Sy boodskap is onderskryf met ‘n boodskap van die skool…… “vandag was ‘n heerlike dag wat ons saam as ‘n groot #superlumie familie kon vier. Baie geluk, mnr. Kriel!”

