Eenvoudige lyne word kunswerke
MEYERTON. - Die nasionale inperking was vir alle Suid-Afrikaners ‘n groot uitdaging en so ook vir kunstenaars.
Hulle moes uitlaatkleppe vind om hul kreatiewe vloei te behou. Verskeie het groepe op sosiale media gestig en werkswinkels is sodoende aangebied. Verskeie het selfs hul kennis en vaardighede aan beginners oorgedra.
So ook plaaslike kunstenaar Anton Jansen, wat besluit het om ander kunstenaars met opbouende kritiek en aansporing te lei. Anton, welbekend in kunstenaarskringe, het hom ‘n paar jaar gelede weer in die Vaaldriehoek kom vestig.

Hy het veral bekendheid vir sy realisiese portretstudies verwerf, waaronder die kunswerk van Anton Rupert wat op die voorblad van Finansies en Tegieke gepryk het.
Hy was ook by die koerantwese betrokke en noem homself ‘n taalpuris. Deur sy kleurryke loopbaan was Anton ook in die vroeë jare by stelontwerp vir TV en teaters betrokke.

Die tegnologie het deurlopend verander en Anton moes telkens aanpassings maak. Nog een van sy sterkpunte is die besondere karikature wat hy skep.
Anton het in September ‘n geslaagde werkswinkel aangebied waar die eenvoudige lyne van potlode in karikature verander het.
* Anton beplan nog so ‘n werkswinkel. Enigeen wat belangstel om dit by te woon kan hom by 082 587 3761 kontak.
