“Ek het sago gekry,” sê sy. “Dis goed,” verklaar ek, “mens moet dit laat week.”
Ma sit die pakkie op die kas neer. “Gerda sal vanmiddag vir ons maak. Jy het mos gesê jy sal.
“Ek het gesê ek het ‘n resep. Ek het niks gesê van maak nie,” keer ek dadelik. Ons kyk albei vir Pa. “Gaan julle dit nou weer op my afsmeer?” brom hy, maar toe ek en Ma ons middagslapies gaan vat, toe sien ek Pa trek ‘n resepteboek nader.
Pa moet toe natuurlik weer die moeilikste een van die lot probeer. Die een met die meringue op. Ma proe. “Nee, die poeding is nog rou,” verklaar sy. “Maar die meringue is bruin bo,” sê Pa en hy trek weer die resepteboek nader.
‘n Rukkie later hoor ek hoe bekla hy sy lot by sy suster oor die foon. “Kan jy glo die boek is verkeerd. Ek gaan nou die meringue afhaal en die poeding weer bak. Nee, hulle help niks. Ja, ek is mos die Koekedoor van die huis.”
Hier van agter af tjip Ma in. “Vertel bietjie jou suster van die asynpoeding.”
Pa maak of hy niks hoor nie. Die asynpoeding het so ‘n paar weke terug gebeur. Weer so op ‘n Sondagmiddag. Net op die betrokke dag het hy nie sy bril opgehad nie, want toe daai poeding uit die oond kom, toe ruik die hele huis na asyn. Oneetbaar. Blyk toe Pa het ‘n hele koppie asyn ingegooi. Ma kon dit gelukkig die volgende dag met appelkooskonfyt en tuisgemaakte vla red.
Gisteraand eet ons lekker warm poeding. Pa brom-brom nog ‘n bietjie omdat ek en Ma ons so uit die gebakkery gedraai het. Maar, dis nou nie dat ek en my ma nie kan bak nie. Dis net dat Pa die een is met die passie daarvoor…
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.