News

Onophoudelike pyn is ’n werklikheid vir baie mense

Vir mense wat aan chroniese pyn ly, kan die uitdagings nie altyd ten volle deur vriende en familie verstaan word nie.

“Die meeste van ons dink aan pyn as iets wat tydelik is. Chroniese pyn strek egter veel verder as die fisiese ongemak van akute pyn, en die implikasies daarvan op geestesgesondheid kan ingrypend wees,” sê Cayley Alberts, ’n arbeidsterapeut en die bestuurder van die Centre of Psychotherapy Excellence (COPE) by Netcare.

Om in konstante pyn te leef, kan ’n persoon se emosionele welstand en sielkundige funksionering ingrypend beïnvloed.

Anders as ’n sigbare besering soos ’n litteken, ’n gebreekte ledemaat of ’n duidelike wond, toon chroniese pyn dikwels geen uiterlike tekens nie en het dit geen duidelike mediese verduideliking wat ander maklik kan verstaan nie.

“Hierdie onsigbaarheid is ’n groot uitdaging, aangesien mense wat met chroniese pyn leef uiterlik ‘okay’ kan voorkom terwyl hulle aansienlike innerlike lyding ervaar.

“Gevolglik word hul stryd dikwels verkleineer, oor die hoof gesien of misverstaan. Dit lei daartoe dat baie mense hul pyn in isolasie verduur, sonder voldoende ondersteuning,” sê Alberts.

“Hierdie deurlopende pyn kan tot frustrasie en geïrriteerdheid lei. Simptome van depressie en emosionele uitputting is algemeen onder mense wat met chroniese pyn leef.

“Vanuit die perspektief van ’n arbeidsterapeut wat binne psigiatrie werk, sien ons gereeld hoe chroniese pyn verskeie fasette van die daaglikse lewe beïnvloed, insluitend slaappatrone, energievlakke en eetpatrone, gemoedstoestand en verhoudings, werk en produktiwiteit, asook ’n persoon se identiteit en onafhanklikheid,” sê sy.

“Fisiese aktiwiteit is ’n gesonde uitlaatklep vir stres, emosionele uitdrukking en selfregulering, maar chroniese pyn beperk dikwels mense se mobiliteit en deelname. Vir mense wat voorheen sport of oefening geniet het, kan dit besonder ontstellend en frustrerend wees.”

“Dit is noodsaaklik om te verstaan dat die verhouding tussen chroniese pyn en geestesgesondheid tweerigting is. Chroniese pyn kan bydra tot die ontwikkeling van geestesgesondheidsprobleme, wat op hul beurt weer ’n persoon se persepsie en ervaring van pyn kan versterk,” verduidelik sy.

Hierdie onderling verbonde siklus beklemtoon die belangrikheid van ’n holistiese benadering tot behandeling, wat beide die fisiese en sielkundige komponente van pyn aanspreek.

“Daar moet gestreef word om die persoon te help om ’n ryker, meer betekenisvolle en vervullende lewe te lei, wat oor meer as net pyn alleen gaan”.

Sy beveel aan dat mense wat met chroniese pyn leef so gou moontlik ’n afspraak met ’n sielkundige, psigiater of arbeidsterapeut in hul omgewing maak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button