Dina (62) se mediese-nagmerrie
Dina Ferreira (62) het een oggend met erge rugpyn wakker geword. Sy kon skaars regop sit en het besluit om ongevalle toe te gaan… en dit is waar haar nagmerrie-ondervinding begin het.
VAALPARK – Daar is X-strale van Dina se rug geneem, en sy is na ’n neurochirurg verwys by wie sy eers twee weke later ’n afspraak kon kry.
Daar is ’n MRI gedoen en die verslag het daarop gedui dat daar been tussen haar rugwerwels groei. ’n Operasie was haar voorland, want die been tussen die rugwerwels moes weggekap word.
“Die weggekapte been moes glo met iets gemeng word om kussinkies te maak vir tussen die werwels. Ek het toe die afspraak gemaak met die hoop dat ek van die pyn verlos sou word,” vertel Dina, ’n jarelange inwoner van Vaalpark.
Op 16 Februarie is sy teater toe, maar sy het in die Intensiewesorgeenheid wakker geword. Haar spinale vogsakkie is tydens die operasie raakgesny.
Vir drie dae is die vog gedreineer en op 20 Februarie is Dina na ’n gewone saal geskuif.
Die dreinering is op 21 Februarie gestop, waarna die wond toegeplak is. Dina is op 4 Maart ontslaan.

Wond genees nie
“Ek het gesukkel om die pleister op te hou, want die vog het bly lek. Op 8 Maart het die pleister afgeval en ek is deur vriende terug ongevalle toe geneem.”
’n Neurochirurg se inset is ingeroep wat aanbeveel het dat Dina weer opgeneem moes word. Maandag, 9 Maart is sy terug in teater om die spinalevoglek te seël.
Dina sê sy het vir die volgende paar dae in ’n gewone saal baie swaar gekry. “Ek het pyn en angs ervaar en die spesialis het boonop net elke drie dae kom inloer.”
Na sowat ’n week is Dina skielik na ’n isolasiekamer geskuif.
Kiem onder lede
“Daar lê ek stoksielalleen en ek is ’n erge depressielyer. Toe word ek meegedeel ek het antibiotika nodig vir Klebsiella (’n kiem) wat ek opgedoen het,” vertel Dina.
Twee dae later is Dina gevra wie vir die antibiotika gaan betaal as haar mediese fonds dit nie dek nie, want sewe dae se antibiotika beloop sowat R37 000.
Dina het die aanspreeklikheid aanvaar sodat sy die behandeling kon kry. Intussen het sy alleen deur die diep waters gegaan, want albei haar seuns is oorsee. Hulle en ander familielede het darem aangebied om te help met die mediese onkoste indien nodig.
Intussen moes die wond op Dina se rug steeds behandel word. “Tydens die behandeling word sponse in die gat in my rug gedruk en ’n vakuummasjien gebruik om die wond skoon te maak.”
Op 2 April is Dina na ’n gewone saal geskuif en ’n dag later is sy ontslaan.
Tuisversorging
“Ek is huis toe met die groot vakuummasjien wat ek vir drie weke moes gebruik, en daarna ’n kleiner vakuummasjien vir nog ’n week.”
Dina is egter deur die dokter se spreekkamer gekontak wat gesê het sy moet 26 April terug teater toe gaan. Die Saterdag het sy ’n oproep gekry dat die operasie tot Maandag uitgestel word.
“Ek lê Maandag en Dinsdag daar, toe kom my dokter se vennoot en sê ek word eers Woensdag geopereer.”
Weer onsuksesvol
Die operasie is uiteindelik gedoen. Die dokter het die ou wond oopgesny, die ou velle oor die wond verwyder en die wond weer toegewerk. Maar dit was nie suksesvol nie.
Toe die steke op 19 Mei uitgehaal is, was daar steeds ’n gaatjie. Dina word tans twee keer per week deur ’n wondsuster behandel, waartydens foto’s van die wond geneem en na die spesialis gestuur word. Sy moet die dokter weer oor drie weke sien.
“Ek kan nog steeds nie op my rug lê nie. Ek is op die punt om op te gee,” sê ’n bedrukte Dina.
Dina het regshulp of raad nodig oor wat sy te doen staan.
Regsadvies
“Ek het nie geld vir ’n prokureur nie, maar mens kry blykbaar mense wat dit gratis ondersoek en dan, as dit slaag, hul vergoeding neem. Ek was vir drie maande van my huis af weg en moes by vriende bly om my te versorg. Hierdie nagmerrie kos my medies al meer as ’n miljoen,” sê Dina.
Indien daar iemand is wat raad vir Dina het, kan sy by 082 8537 930 gekontak word.
