Emfuleni-munisipaliteit bestee net 1,6% van inkomste aan onderhoud van infrastruktuur
Die VF Plus verwelkom die erkenning van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) se burgemeesterskomiteelid vir openbare werke, Bheki Ntsele, dat die totale ineenstorting van dienslewering in die gebied toegeskryf kan word aan die gebrek aan volgehoue instandhoudingswerk aan infrastruktuur.

Die munisipaliteit bestee net 1,6% van sy inkomste aan onderhoud en herstel van infrastruktuur.
Ntsele het in ‘n radio-onderhoud bevestig dat die munisipaliteit nie die afgelope 27 jaar op die instandhouding van infrastruktuur gefokus het nie.
Hy het verder erken die munisipaliteit se geldnood is ‘n direkte gevolg van ʼn klein groepie inwoners wat vir dienste betaal terwyl die oorgrote meerderheid inwoners dienste ontvang waarvoor hulle nie betaal nie. Die situasie het die afgelope jare so versleg dat die munisipaliteit noodgedwonge beurtkrag moet toepas.
Wanadministrasie, korrupsie en politieke aanstellings is van die grootste oorsake waarom die Emfuleni-munisipaliteit nie behoorlike dienste kan lewer nie en inwoners dae lank sonder elektrisiteit en water laat, terwyl riool in die strate vloei.
Ratings Afrika Municipal Financial Sustainability Index, wat munisipaliteite se finansiële volhoubaarheid meet aan bedryfsprestasie, likiditeitsbestuur, skuldbeheer, begrotingspraktyke, bekostigbaarheid en ontwikkeling van infrastruktuur, het aan Emfuleni ‘n punt van 21 uit 100 gegee vir infrastruktuurontwikkeling.
Ntsele se verdere erkenning dat die munisipaliteit ‘n werkskeppingagentskap vir diensverskaffers geword het, is ook een van die knelpunte waarteen die VF Plus ‘n geruime tyd waarsku. Die munisipaliteit het ‘n opgeleide personeelkorps wat daartoe in staat is om die werk te doen , maar in stede daarvan, word noodsaaklike dienste uitgekontrakteer.
Die VF Plus het reeds op verskeie regeringsvlakke die Emfuleni-munisipaliteit se probleme geopper en eis dat amptenare en politici, wat verantwoordelik is die munisipaliteit se finansiële probleme en swak dienslewering, strafregtelik aangekla word.
Die VF Plus sal volgehoue druk op die Emfuleni-munisipaliteit plaas om aan inwoners die dienste te lewer waarvoor hulle betaal.
