Local newsNewsNews

Gebou wat 20 oues huisves onveilig vir okkupasie

VEREENIGING. - ’n Gebou by die Drie Riviere Aftreeoord wat in behuisingseenhede vir arm Sassa-pensioenarisse omskep is, is struktureel onveilig en kan enige tyd inmekaarsak.

Só het Pieter du Plessis, uitvoerende hoof van die Northern Conference Development Trust (NCDT) verlede week aan Vaalweekblad gesê.
Die trust, wat deur die Noordelike Konferensie van die Sewendedag-Adventiste Kerk geskep is, besit die ouetehuis.
“Dit is belangrik om te onthou dat Wag-’n-Bietjie Hof-kamers by die aftreeoord nooit bedoel was vir mense om in te woon nie.
“Die gebou is oorspronklik as ’n kleedkamer vir die munisipale swembad ontwerp.
Dit is rondom staalpilare gebou. Die sement tussen die pilare het begin wegbrokkel en die gebou het begin sak.
“Ons raak bekommerd. Ons moet iets doen. As ons nie iets doen nie en dit val, het ons moeilikheid,” het Du Plessis gesê.

Nellie Fourie wat binnekort 88 jaar oud
word, is een van talle inwoners wat in kennis gestel is dat sy teen 31 Januarie moet
trek. Foto: Christiaan Cloete

Gerrie Hadders, voorsitter van die Drie Riviere Aftreeoord, het benadruk dat ’n ingenieursverslag bevestig het dat die gebou inderdaad stuktureel onveilig is.
Die NCDT het gereageer op ’n berig wat onlangs in Vaalweekblad verskyn het oor oues van die Wag-’n-Bietjie Hof-kamers wat ’n onseker toekoms in die gesig staar nadat hulle onlangs per brief in kennis gestel is dat hulle teen 31 Januarie 2021 alternatiewe blyplek sal moet vind.
Die redes wat in die brief aangevoer word is die onveiligheid van die gebou, maar ook dat die NCDT sy sakemodel weens moeilike tye moes aanpas en besluit
het om eerder kapitaaltoelaes aan liefdadigheidsorganisasies bo die verskaffing van behuising aan Sassa-pensioenarisse as die weg vorentoe te kies.
Die kamers bied glo al vir ’n geruime tyd bekostigbare verblyf teen R400 per maand aan arm oumense wat staatstoelaes ontvang. Volgens Hadders het daar die afgelope paar jaar heelwat oues in die kamers beland wat meer as net ’n staatstoelaag van R1 800 per maand ontvang en dus nie kwalifiseer om in die kamers te bly nie.
“Daar is ongelukkig mense wat die stelsel uitbyt, wat beteken dat hulle die plek neem van iemand wat regtig hierdie verblyf nodig het en vir wie dit eintlik bedoel is,” sê Du Plessis.
Oor presies hoe dit gebeur het is hulle nie seker nie. ’n Ander rede vir die verskuiwing van die bejaardes was volgens Hanno Bekker, voorsitter van die NCDT, die feit
dat die inwoners van Wag-’n-Bietjie-Hof dieselfde badkamer en kombuis gedeel het, wat ’n risiko vir die verspreiding van die Covid-19-virussiekte was. Weens die beknopte omstandighede het dit ook die risiko geskep dat Covid-19 aan die ander 650 inwoners van die aftreeoord oorgedra sou kon word.
Volgens Bekker is die plan om die onveilige gebou te sloop en woonstelletjies te bou wat elkeen hul eie badkamer het.
Na aanleiding van die berig het twee instansies – Pioneer House in Vanderbijlpark en Els-Medsorg buite Vereeniging – volgens Bekker, ook aangedui dat hulle van die bejaardes sou kon akkommodeer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gugulethu Kgongoane

Gugulethu Kgongoane is the Online Editor of Sedibeng Ster. Email: gugu@mooivaal.co.za She is also an online journalist of Vaalweekblad. Email: gugu@mooivaal.co.za
Back to top button