Pensioenaris bang huis gaan afbrand
VANDERBIJLPARK. – Marlene van Wyk is ‘n pensioenaris wat met ‘n SASSA pensioen vir haar en haar seun, wat tans werkloos is, probeer sorg.
Die huis waarin sy al vir die afgelope 27 jaar woon is jare gelede al afbetaal.
Elke maand beloop haar elektrisiteitsrekening tussen R4000 en R5000. Sy hou voet by stuk dat hulle nie soveel krag kan gebruik nie en dat die fout by die kragboks teen die muur lê. By nadere ondersoek het sy gevind dat die drade in die kragboks in ‘n slegte kondisie is. Volgens Marlene het vier elektrisiëns al vir haar gesê dat die drade ‘n brand gevaar inhou, maar dat hulle nie kan help nie omdat die boks munisipale eiendom is. Sy is so bang dat haar huis gaan afbrand, dat sy glad nie die huis wil verlaat nie.

Al haar pogings om die munisipaliteit te oortuig dat daar fout is met die elektrisiteit en die rekening val op dowe ore. Die kere wat werkers wel opgedaag het, het hul blykbaar net na die groen kragboks verder op in die straat gekyk en dan verklaar dat alles reg is. Volgens haar het nie een van hulle al na die kragboks teen die muur of die een in die huis gekyk nie.
Intussen sukkel sy om haar agterstallige rekening af te betaal. “Ek kan net soveel per maand afbetaal op die rekening. Hulle sê ek skuld R16 000 en dat hulle my krag gaan sny. Ek kry net ‘n SASSA pensioen, ek weet nie meer wat om te doen nie. Baie aande gaan slaap ek honger, omdat al die geld vir die water en elektrisiteitsrekening gaan”, het sy na aan trane aan Vaalweekblad verduidelik.
Sy oorweeg dit nou om regshulp in te win, maar kan dit nie bekostig nie. Indien iemand haar dalk geldelik of met raad kan bystaan, kontak asseblief die koerant vir haar besonderhede.
