Local newsNewsNews

Van naderby – Vaalweekblad se Harde Nuus Joernalis

VANDERBIJLPARK. - Lazarus Dithagiso is bekend vir sy treffende op-die-toneel foto’s en verslaggewing. Hy verkies harde nuus stories en is die een wat gewoonlik eerste op ‘n toneel is om die nuus weer te gee.

Om foto’s te neem en stories te skryf bruis al van jongs af deur sy are. Op skool het hy met ‘n ou kamera foto’s geneem en dan die foto’s aan sy maats verkoop. “My ma en ousus kon my nie laat leer nie. Ek was in standerd 4 (graad 6) toe ek in mense se tuin begin werk het om geld te verdien en het uiteindelik ses jaar daar gewerk. Die mense was goed vir my, hulle het my standerd 8 en matriek registrasiegeld betaal.”
Na skool het hy werk as ‘n petroljoggie gekry in Potchefstroom. In 1993 het hy as vryskut joernalis begin skryf. Mettertyd het sy stories ook hul pad na die Potchefstroom Herald gevind en is hy later ‘n permanente pos aangebied. Deur die jare het hy vir verskeie koerante geskryf en ook vryskutwerk vir die SABC gedoen.
Teen 2003 is Lazarus na die Vaaldriehoek verplaas waar hy eers net vir die Engelse koerante geskryf het, maar sedert 2005 ook deel geword het van Vaalweekblad se redaksiespan.
Na al die jare in die bedryf het Lazarus steeds ‘n passie vir verslaggewing. Hy is altyd op soek na die volgende storie om te gebeur. Waar ander mense sal weghardloop, staan hy vas om sy foto te kry. “As ander mense sê ‘oeee’, dan vra ek wat,” lag hy lekker.
By enige toneel sal hy eers foto’s neem. “Ek kan altyd later inligting kry, maar die kans om ‘n ongelukstoneel of konfliksituasie af te neem is net een keer daar,” sê hy. Hy onthou hoe hy die een keer in die middel van ’n protesoptog beland het, met die polisie links van hom en die protesteerders regs. Die volgende oomblik het sy knieë onder hom meegegee. Hy onthou hy het net aanhou foto’s neem. Eers minute later besef daar is ‘n
kol op sy rug wat brand en besef hy bloei. Hy het per ongeluk in die spervuur beland en is deur ‘n rubberkoeël getref!
Dan was daar die keer wat hy homself as ‘n hawelose van die Vrystaat voorgedoen het en tussen die ander haweloses in Vanderbijlpark se middestad oornag het.
“Ek wou weet hoekom hulle daar is en hoekom van hulle van die huis af weggeloop het. Ek het met iemand gereël om omstreeks 23:00 foto’s te kom neem met my digitale kamera,” vertel hy.
Wanneer hy nie op soek is na ‘n storie nie, hou hy daarvan om in sy tuin te werk, met sy kleinseun te speel of sy dogter met skoolwerk te help.
Maar, jy gaan hom nie kry om stil te sit nie, daarvoor is sy ingeboude verslaggewer-radar net te skerp ingestel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gugulethu Kgongoane

Gugulethu Kgongoane is the Online Editor of Sedibeng Ster. Email: gugu@mooivaal.co.za She is also an online journalist of Vaalweekblad. Email: gugu@mooivaal.co.za
Back to top button