
Dit is eers wanneer jy dit van nader beskou dat jy besef die mure vertel stories. Plakkaat op plakkaat vertel die mure rondom die kleedkamers en agter die verhoog jou die geskiedenis van die Etienne Rousseau Teater in Sasolburg.

Van die plakkate lyk nog mooi, ander het met die jare al erg verweer en geskeur. Herman van Niekerk sê hulle het al verskeie middele probeer om die plakkate te bewaar, maar die enigste opsie wat werklik sal werk, is om glas of perspeks voor die plakkate aan te bring. Dit is egter baie duur en nie iets wat op die stadium oorweeg kan word nie.

Om al die plakkate te lees voel soos ‘n reis terug in tyd. Die Alabama Studente Geselskap het elke jaar hul produksie Sasolburg toe gebring. Elke plakkaat bring dadelik herinneringe terug van jong studente wat vrolik op die verhoog dans. Truk en Sukovs is ook goed verteenwoordig saam met ‘n verskeidenheid van kore, operas, dramas en ballet produksies.

Vanuit verskeie hoeke is daar plakkate van kunstenaars wat lankal nie meer met ons is nie, soos Gé Korsten, Bles Bridges, Johannes Kerkorrel, Janita Claassen en Patrick Mynhardt. Veel jonger weergawes van, onder meer Sonja Heroldt, Rina Hugo, André Schwartz, Danie Botha en Bok van Blerk lyk asof hul enige oomblik ‘n impromptu-konsert kan begin.

Dit is duidelik dat daar die afgelope 45 jaar ‘n groot verskeidenheid eersteklas produksies by die ERT gehou is. Sedert Maart 2020 was die teater in stilte gehul weens die Covid-19 inperkings. Die stilte word op Sondag, 25 Oktober verbreek met The music of Heinrich Schütz om 15:00 en dan ‘n vol program vir November met onder meer Ruhan du Toit (1 November), Nataniël (21 November), Nataniël en Charl du Plessis (22 November), en ‘n Spaanse dansfees op Saterdag, 14 November.

Meer inligting oor hierdie en ander vertonings is beskikbaar by https://www.etiennerousseautheatre.co.za/shows. Slegs 225 kaartjies is beskikbaar per vertoning en alle Covid-19 regulasies (sanitasie van hande en verpligte dra van maskers) sal gevolg word.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
