Op 60 jaar en nog vele meer
Oom Jorrie en Tannie Meintjie Jordaan is 60 jaar getroud en sê dis alles net genade. Veels geluk. Julle is 'n voorbeeld vir baie.
MEYERTON – Twee inwoners van die Lewensreis Aftree oord het op 17 September hul 60ste huweliksherdenking gevier. Oom Jorrie en Tannie Meintjie Jordaan het mekaar net 25 dae geken, toe raak hul verloof en is vyf maande later getroud.
Tannie Meintjie sê sy het butterflies gekry toe sy Oom Jorrie ontmoet het. “Ek het dit as ʼn teken beskou. Ek het gebid en vir die Here vir ʼn teken gevra sodat ek weet wanneer ek die regte man ontmoet. Toe ek Jorrie sien, toe weet ek,” vertel sy.
Die twee het mekaar by haar suster se huis ontmoet. Die probleem was dat sy op daardie stadium met Jorrie se vriend uitgegaan het. “Hy het my nie eens raakgesien nie,” vertel sy. Dit het egter vinnig verander.
“Dit was en is absoluut net genade. As dit nie vir genade was nie, dan was ek al op death row,” lag sy. Dan raak sy ernstig. “ʼn Huwelik is harde werk. Dit verg baie van beide kante. Ek en Jorrie is teenoorgesteldes van mekaar. Ons is saam deur diep waters. Mense moet onthou elke huwelik het sy eie uitdagings.”
Die twee bly tans in aparte kamers regoor mekaar in die Lewensreis Aftreeoord. “Ons kuier die heel dag saam, maar hy gaan slaap al 17:00. Ek is ʼn naguil,” beduie Tannie Meintjie. “Moenie dink om ʼn verhouding te hê sonder die Here as jul rots en fondasie nie,” is haar raad aan jonggetroudes.
Die egpaar het twee seuns (albei al oorlede), ʼn dogter en vier kleinkinders.
