Oud-verkeersman van Sasolburg oorlede
Pieter le Roux se verlossingsdiens word op 15 Oktober om 12:00 by NG Kerk Vier Ankers gehou.
SASOLBURG – Vir 21 jaar lank was Pieter le Roux ’n bekende provinsiale verkeersbeampte op die dorp. Een van die ou garde wat altyd die reguit pad geloop het en nooit in sy lewe ‘n sent se omkoopgeld aanvaar het nie.
Dit is dus te verstane dat hy onder sommige inwoners besonder gewild was, terwyl ander minder van sy onwrikbare pligsbesef gehou het.
In 2008 het Pieter sy verkeersbeamptehoed vir die van ‘n padkonstruksiehoed verruil.
Twee jaar later het sy gesondheid egter ingegee toe hy op 27 September 2010 sy eerste groot hartaanval gehad het en vier stents moes ontvang.
Sy gesondheid het oor die jare steeds agteruitgegaan. Hy is later met hartversaking gediagnoseer, waarna hy ’n viervoudige hartomleiding moes ondergaan en sy mitrale klep herstel is.
Pieter het uiteindelik besluit om in 2015 af te tree.
Gesondheid versleg
Vanjaar het sy gesondheid weer versleg. In Julie moes hy in die intensiewesorgeenheid opgeneem word, waarna hy tuis deur sy vrou en dogter versorg is.
Hy het egter op 9 Oktober die stryd verloor.
“Sy liefde vir God was so groot dat hy met sy kop op sy Bybel aan die slaap geraak het, en so sy laaste groot hartaanval gekry het. My ma was by toe hy sy laaste asem uitgeblaas het,” vertel sy dogter, Riana du Randt.
“Die groot liefdes in my pa lewe was natuurlik my ma Irene, ek, my sussie Cari en sy skoonseun, Dewald. Hy het Dewald as sy eie seun beskou en na homself verwys as Dewald se ‘vuilpa’,” vertel Riana.
“Dan was daar natuurlik sy twee geliefde kleinseuns, Phillip en Ewald, wat oupa se beste vriende was.”
Pieter het ook ’n baie spesiale plek in sy hart gehad vir die veld en sy honde.
Nog ’n herinnering wat Riana laat glimlag, is haar pa se groot liefde vir suiwer Afrikaans.
“Dit was nie onderhandelbaar nie! Hy het ook niks daarvan gedink om vier stapels hout te brand vir net één stukkie wors nie.”
- Vaalweekblad se innige simpatie aan Pieter se geliefdes in die hartseer tyd.

