
Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit (ELM) het Dinsdag, 20 Oktober volle titelaktes aan 190 inwoners uitgedeel.
Volgens rdl. Edwin Kele, Emfuleni se burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings, sal gedeeltelike titelaktes vir huise waar daar meer as een huis op ’n erf is, teen die einde van volgende jaar uitgedeel word, as alles goed gaan.

Volgens rdl. Stanley Mashabela, Emfuleni se raadslid vir wyk 15, was die huise voorheen die eiendom van die regering en moes inwoners die huise by die munisipaliteit huur, tot daar ooreengekom is dat inwoners net water en ligte betaal tot die huise aan hulle oorgedra word.
“Nou is die huise in die name van die eienaars oorgedra. Hulle is nie meer bloot huurders nie, maar is nou die volwaardige eienaars van die huise.”
Mashabela se raad aan die nuwe huiseienaars was om hul eiendomme in stand te hou en dit mooi te maak.

“Julle kan nou die eiendomme verbeter en opgradeer. Dit is behoort nou aan julle,” het hy aan diegene wat titelaktes ontvang het, gesê.
Volgens Ilze Botha, ’n inwoner, is die mense baie bly.
“Ons het die stryd in 2002 begin met behulp van Nic Jansen van Rensburg, ’n oud-raadslid van die Vryheidsfront Plus van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit. In 2006 is ons name uiteindelik in die staatskoerant gepubliseer dat hulle vir ons die titelaktes gaan gee en dit het nog 14 jaar geneem voor dit vandag verwesenlik is,” vertel sy.
Die proses het weens die administratiewe rompslomp, 18 jaar geneem.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
