LifestyleNewsNews

‘n Vakansiestaaltjie toe 3 meer as 10 was

‘n Somer of wat gelede...

“As die weer uit daardie rigting kom, dan is hier ‘n groot storm op pad,” verklaar ‘n oom in die swembad. Hy het bietjie hard gepraat, want almal se koppe draai na waar ‘n donker wolk in aantog is. Op die kant staan ‘n vrou.
Lank, skraal en bruingebrand. Gryshare, streng gelaatstrekke. Haar twee kleinkinders speel op die swembad se trap. Albei het swemvlerkies aan. “Kom kom,” sê sy, “ons gaan oor tien minute huis toe.”
“12 minute,” protesteer die seuntjie dadelik. Hy’s seker so 5. “Bog,” sê sy ouma, “daar is geen verskil tussen 10 en 12 minute nie.”
“Eerder 3 minute dan,” verklaar sy jonger sussie, duidelik oortuig dit moet langer wees. Ouma begin solank die goed bymekaarmaak.
Boetie het al weer vergeet van die 10 minute. Hy is in ‘n diep gesprek gewikkel met twee ander kinders en die se oupa. “My ma wou mos vir my ‘n swemskool begin,” vertel hy, “maar ek het gesê nee.”
Sy ouma hoor hom. ”Nee, jy storie darem nou erg,” sê sy.
“Het julle ‘n swembad?,” vra die oupa van die ander twee kinders. “Ja,” sê die jongeling met ‘n ernstige frons, “maar dit sou baie beter wees as die water tog net warm was, soos hier.”
“Klim nou uit,” sê sy ouma.
“Maar wat nou van die 10 minute?” vra hy. “Dis al korter,” sê sy ouma en tel die sak op. “Ouma!,” roep sussie benoud en mik om uit te klim. “Sy sal ons nie hier los nie,” kom dit van haar boetie, maar hy voeg darem ‘n vinnige, “nê ouma?” by.
Teen die tyd het Ma haar skoene aan en ons kan aanstap. Ek wonder oor die storm. Vlak voor 6 maak ons reg om restaurant toe te stap. Vier vet druppels plop voor die deur. “Dit drup,” sê ek, “maar die son skyn nog.”
“Ag, ons loop net bietjie vinniger,” sê Ma. Halfpad raak die druppels effens meer.
“Hoop nie dit hael nie. Dit was vandag baie warm,” kom dit van Ma en ek sien sy swaai haar arms vinniger.
Die volgende oomblik spat ‘n haelkorreltjie aspris teen my vas en land voor Ma se voete. “Sien jy, dit hael,” sê Ma totaal onnodig.
Nog ‘n haelkorrel tref my soos Goliat van ouds tussen die oë. “Sies, dit was raak,” kla ek. Dit reën harder. Ma sien die oop deur na die onthaalsaal wat verbind is met die restaurant. “Gaan hier in,” sê sy. “Daar is mense met grênd klere,” probeer ek keer.
Ma is al by die deur in. Binne is mense in deftige klere besig om na hul tafels te tou. Ek maak of ek nie die skok op hul gesigte sien nie.
Ek weet ons hare staan wild en ons is bietjie nat gereën, maar ons glimlag breed oor die welkome kortpad.
Kry ons sit in die restaurant. Eet te lekker. Bestel selfs poeding. Buite woed die storm homself uit.
Toe ons heelwat later uitstap, sing die krieke en lê die swembadwater weer spieëlblink in die aandlig. Ai, dis lekker om op vakansie te wees…

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gugulethu Kgongoane

Gugulethu Kgongoane is the Online Editor of Sedibeng Ster. Email: gugu@mooivaal.co.za She is also an online journalist of Vaalweekblad. Email: gugu@mooivaal.co.za
Back to top button