NewsNews

Mekayla se lewe na 10 jaar steeds met straatparty herdenk

VEREENIGING. - Verlede week, op 29 Oktober, was dit presies tien jaar gelede dat klein Mekayla Slabbert (3) naby die Leeuhof-kafee in ‘n fratsongeluk deur ‘n trok getref is en gesterf het.

Die blondekop-kleutertjie, wat in haar kort lewe soveel vreugde vir baie Leeuhof-inwoners gebring het, se begrafnis is ‘n paar dae later deur meer as 400 inwoners bygewoon.
Vir Anne-marie Slabbert, haar ma, is dit na tien jaar steeds moeilik om te praat oor die donkerte en verdriet wat haar lewe vir ‘n lang tyd oorheers het nadat sy op 29 Oktober 2010 die tyding oor haar enigste kind se dood ontvang het.
 
Sy was by haar werk in ‘n winkelsentrum daar naby toe mense ingestorm het met die nuus dat daar ‘n ongeluk was. Dit was die begin van ‘n pynlike pad vir Anne-marie en haar familie.
Om die trauma van ‘n kind se dood te verwerk, gebeur nie oornag nie, maar Anne-marie het mettertyd besef dat haar sonskynkind se kort lewe steeds betekenisvol kan wees. In 2013 het sy besluit om ‘n Kersfeespartytjie in Mekayla se naam vir minderbevoorregte kinders van Leeuhof te reël.
Só het die jaarlikse Mekayla Memorial Street Party in Leeuhof begin: ‘n Geleentheid waar Leeuhof se kinders, wat byna almal uit gesinne kom waar daar groot werkloosheid en armoede heers, vir ‘n dag lank die vreugde van Kersfees kan beleef.
“Vir baie van dié kinders is Kersgeskenke ‘n weelde wat hulle nie ken nie. Sommige het nie eers ‘n behoorlike bord kos om op Kersdag te eet nie. Om dié rede het ek begin geld insamel en borge gekry om die Mekayla Memorial Street Party te begin en ‘n verskil in hul lewens te maak. Terselfdertyd is dit ‘n manier om Mekayla, wat soveel sonskyn en liefde uitgestraal het, se nagedagtenis lewend te hou,” sê Anne-marie.
Vanjaar is ‘n besonder moeilike jaar vir Anne-marie. Borge se geld is skraps weens die Covid-inperking omdat dit groot finansiële uitdagings vir baie sake-eienaars veroorsaak het. Daarby is Anne-marie self een van talle plaaslike inwoners wat hul werk weens die inperking verloor het.
 
Hoewel Mekayla steeds met groot verlange en eindelose liefde onthou word, het haar boetie Louis (8) en sussie Janeke (9 maande) opnuut vreugde in die Slabbert-huishouding gebring.
Maar sy gaan haar nie deur struikelblokke laat onderkry nie. Sy beskou dit as haar taak om die straatpartytjie te máák werk, al gaan dit hoe swaar. Sy het self immers soveel seën in die afgelope jare ontvang dat sy steeds in Mekayla se naam vreugde wil bring vir ander wat swaarkry.
Veertien maande na Mekayla se dood het Anne-marie ‘n seuntjie, Louis, in die wêreld verwelkom. Vanjaar het blydskap weer aan die deur kom klop toe haar dogtertjie, Janeke, in Januarie gebore is. “Janeke beteken ‘deur God se genade’. Sy is ‘n ligpunt in ons lewe,” sê Anne-marie.
Op 29 Oktober het die familie blomme gaan neerlê op Mekayla se graffie. Die verlange is nog groot, maar die allesoorheersende hartseer het nou plek gemaak vir hoop en ‘n dryfkrag om Mekayla se naam deur die straatpartytjie te laat voortleef.
* Anne-marie beplan om die Leeuhof-straatpartytjie vanjaar op 19 Desember te hou. In die verlede kon tot soveel as 500 Leeuhof-kinders geskenke en heerlike eet- en drinkgoed op dié dag ontvang. Sy hoop om dit vanjaar weer met die ondersteuning van inwoners en die sakegemeenskap te doen.
Enigiemand wat betrokke wil raak, hetsy deur geld, dienste of produkte te skenk, kan Anne-marie by 082 492 9172 kontak.
Geldelike skenkings kan inbetaal word by Mekayla Memorial NPC, Capitec, Spaarrekening: 160 816 4991, takkode 470010.
Back to top button