
Sowat 18 maande gelede het sy gesien die Owl Rescue Centre is op soek na vrywilligers. Sy het hulle gekontak en kort daarna haar eerste oproep gekry om ‘n uil te gaan vang.
“Daar is ‘n span spesialiste en kenners landwyd wat saamwerk elke keer as ‘n dier gevang moet word. Ek het al baie ‘n kenner geskakel en dan na die persoon se opdragte oor hoe ek moet maak om ‘n dier te vang en te stabiliseer, geluister terwyl ek dit gedoen het,” vertel sy.

Dit is vir haar hartseer dat daar mense is wat steeds dink uile is boos. Sy is dankbaar vir die mense wat haar bel om die uile te kom vang, eerder as om hulle dood te maak. Sy het ook al uiltjies gaan red waar die wyfie nie teruggekeer het nes toe nie. Ander uile raak in drade verstrengel of word beseer as motors hul tref. So het sy al Nonnetjies uile, Gevlekte Oortjies uile en selfs ‘n Witwanguil gekry.

“Die kwaaiste dier was die volwasse ystervark. Ons het hom hier onder by die rivier gekry, en ek moes hom oornag hou. Hy was heelnag omgekrap. Ek het hom baie jammer gekry, want ek kon hom glad nie uit die vanghok laat kom nie. Dit was maar vir ons albei ‘n rustelose nag,” onthou sy.

“Ons het hom die volgende dag in ‘n geskikte omgewing vrygelaat en toe het hy heel tevrede weggedraf.”
Celeste beoog om volgende jaar ook haar kwalifikasie te kry om slange te mag vang en te hanteer. Intussen hou al die skilpaaie, uile en vlermuise haar besig. “Mense tree baie onverantwoordelik op en die meeste van die tyd is dit uit onkunde. As hulle tog maar net wil besef dat elke dier ‘n spesifieke rol in die ekologiese stelsel vertolk, sal hul dalk meer respek vir diere hê. Selfs vlermuise vang en eet muskiete.”
Sy frons. “Mense moet versigtig wees vir wilde diere. Maar, moenie hul doodmaak of seermaak nie. As jy in die Vaaldriehoek is, bel my, ek het ‘n hele span kenners en vrywilligers se nommers wat kan help. My nommer is 071 674 7959.”
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
