NewsNews

Van naderby: Vaalweekblad se Gerda laat mens weer van lees hou

VANDERBIJLPARK. – “Mense laat my ‘tick,’” sê Vaalweekblad-joernalis, Gerda Bruinette. Dit is dus geen verrassing dat sy ‘n meester met mensestories is nie.

Sy het boonop die talent om met net ‘n paar vrae mense aan die praat te kry.
“Mense vertrou my en vergeet soms dat ek ’n joernalis is,” sê die gesoute onderhoudvoerder.
Maar haar innemende persoonlikheid, skerp sin vir humor en weldeurdagte vrae is waarskynlik die rede hiervoor.
Vandag is die tafels omgedraai en is dit Gerda se beurt om bietjie meer oor haarself te praat.
As voormalige kommunikasiebeampte by die departement van openbare werke, tydskrifredakteur, toespraakskrywer vir adjunk-ministers en redakteur van die polisie se interne tydskrif (wat eens op ’n tyd die rang van luitenant-kolonel gedra het) het Gerda waardevolle lewenservaring.
Kollegas noem haar “Ou Valkoog”, want sy sien ‘n spelfout van ’n myl af! Sy verkies om oor positiewe gebeure te berig. En sy is nog “old school” – van aangesig tot aangesig.
Sy is ietwat van ’n dromer en raak soms erg verstrooid. Daarmee saam is sy ook rigtingbeduiweld … o ja, en sy hou daarvan om haar motors name te gee. Soos Polly (rooi Golf) – vernoem na krieketkaptein Shaun Pollock en Springbok (groen Golf). “My Fransman was Asterix Modus Renault en my huidige Yankee is Mitch (omdat sy oerouma se oumagrootjie se grootjie ‘n Model-T Ford was van Michigan in die VSA),” vertel sy.
Gerda Bruinette by haar Yankee genaamd ‘Mitch’.
Foto’s: Verskaf
Alles het ‘n rede, jy moet net so diep soos Gerda ingestel wees om dit te verstaan. Gerda is in Brakpan gebore en het in Vanderbijlpark grootgeword nadat haar ouers hulself in 1972 in die Vaaldriehoek kom vestig het. Sy was van kleins af lief vir lees en is gek oor boeke.
Na skool het sy haar B.Com-graad in Bedryfskommunikasie aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) behaal.
In Julie 1996 het sy ’n betrekking as kommunikasiebeampte by die department van openbare werke in Pretoria aanvaar waar sy die redakteurskap van ’n departementele tydskrif behartig het, die departement se uitstallings in die parlement hanteer het, mediakonferensies en bekendstellings hanteer het en toesprake vir die adjunkminister van openbare werke, Eileen KaNkosi-Shandu, geskryf het.
Tussen 2004 en 2011 was Gerda redakteur van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se interne tydskrif, SAPS Journal
Sy het ook in ’n stadium ’n draai in die Laeveld gemaak, waar sy as vryskutverslaggewer in Graskop en Pelgrimsrus gewerk het.
Daarna was sy onder meer ’n digitale redakteur en sosiale media bestuurder voordat sy vroeër vanjaar by die span van Vaalweekblad aangesluit het.
Sedertdien is Vaalweekbladlesers bederf met haar lekkerlees-berigte. Die koerant kry weekliks oproepe van lesers wat laat weet dat hulle “daai storie van Gerda Bruinette nou baie geniet het”.
Lesers kan uitsien na nog verskeie hoogtepunte uit haar pen, want dié joernalis hou van skryf en skrik nie vir nuwe uitdagings nie.
“Ek sê altyd ek is soos ‘n muurbalbal, hoe hard die lewe my ookal slaan, ek hop harder terug, anders as ‘n strandbal wat een gaatjie kry en dan nutteloos afblaas en bly lê.”
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gugulethu Kgongoane

Gugulethu Kgongoane is the Online Editor of Sedibeng Ster. Email: gugu@mooivaal.co.za She is also an online journalist of Vaalweekblad. Email: gugu@mooivaal.co.za
Back to top button