NewsNews

Misdaad bekamp, selfmoord gekeer

SASOLBURG. – Om misdaad suksesvol te kan hokslaan gaan voortgesette samewerking vereis van alle partye.

Dis weereens bewys op Vrydagaand, 6 November tydens ‘n misdaadvoorkomingsoperasie in Sasolburg, Vaalpark, Welgelegen en Wonderfontein kleinhoewes. Sasolburg SAPD se Misdaadvoorkomingseenheid, Sasolburg en Sasolburg Sektor 3 se Gemeenskapspolisiëringsforums, Public Eye Vaal, Afriforum se buurtwag patroleerders, Vaal Emergency Care ambulansdienste, Fidelity ADT en verskeie sekuriteitsmaatskappye het saamgespan. Selfs patroleerders van Vanderbijlpark en Vereeniging het kom help. Goeie suksesse is behaal. ‘n Gesteelde voertuig is teruggevind, ‘n verdagte is met dwelms betrap en verskeie mense is weens verkeersoortredings vasgetrek. Volgens Arrie Coetzee van Public Eye Vaal is voertuie, motorfietse en ‘n hommeltuig (drone) ingespan om die gebied te beveilig. Die patroleerders het nie net misdaad beveg nie, hulle het ook ‘n lewe gered. Die motorfietsryers het deur ‘n veld in Sasolburg gery, toe hulle ‘n bottel hoor val het. By nadere ondersoek het hulle op ‘n vrou afgekom wat wou selfmoord pleeg. Die patroleerders het dadelik die polisie in kennis gestel wat vinnig op die toneel was saam met die ambulansdienste. Sy het egter enige mediese hulp geweier. Haar familie is in kennis gestel en die situasie is ontlont nadat hulle opgedaag en haar gekalmeer het.

Back to top button