Vat my ‘n oomblik of drie om die inligting te verwerk. Die Hippie Verjaardag is geskeduleer om môreoggend om 11:00 af te skop en sy het nog nie ‘n resep nie! Oomblikke later kondig die selfoon aan dat Bella ‘n resep gestuur het. “Nee, gaan nie werk nie,” verklaar Rita, “ek het nie al die bestanddele nie.” Ons wend ons tot Oom Google.

“Moer en roer,” staan dit swart op wit op die skerm. “Lees jy, ek sal meng,” kry sy die slim plan en vir die volgende paar minute sit ek in verstomming en kyk hoe moer en roer sy letterlik bestanddele bymekaar. (My standerd 6 kookkuns juffrou sou ‘n hartaanval gekry het, want niks word afgemeet tot op die presiese lyntjie en randjie soos sy ons geleer het nie.)
Die mengsel was in die pan toe onthou Rita sy wou dit gekleur het. “Jy weet soos daai YouTube video waar al die kleure in bakkies is en dan word die bak geskud …” Ek moet bely dat ek daardie betrokke YouTube video nog nie gesien het nie, maar stel voor sy gooi die verskillende kleure in die rou mengsel en roer sommer met ‘n vurk.
“Gaan mamma vanaand die koek ice?” vra Dewald toe die koek klaar gebak is. “Nee, môreoggend,” sê sy ma. “Ja, mens kan nie ‘n warm koek versier nie, die icing sal smelt,” hou ek my vreeslik slim, maar eintlik het ek nie ‘n idee nie.
Volgende oggend is die enigste haastige een, Johan.
“Kom nou. Maak klaar. Ons moet ry!” raas hy van vroeg af. Maar, ons gaan nog die koek versier. Wel, Rita het.
Ek het gekyk. Die YouTube manier is ingespan. Lae en lae gekleurde icing is oor die koek gegooi totdat dit in ‘n kleurvolle poel soet gestaan het.
“Ag nee,” kla Rita “ek wil dit nie so hê nie. Ek sal vir Bella vra,” besluit sy. Lyk vir my mooi, maar mens stry nie met die kok nie.
Ons laai die koek in my Yankee. Dis nie ver tot by ons bestemming nie, maar in my verbeelding sien ek al hoe spat daai kleure sulke strepe die boot vol. Ten spyte van ‘n paar spoedwalle en ‘n stop teen ‘n opdraande, is daar nie ‘n enkele stukkie soet gemors nie.
By die verjaardaghuis toor Bella die koek tot die standaard wat Rita in gedagte gehad het. Laatmiddag, met die snyslag, is ons heel in ons skik met die kleurvolle binnekant en die agter-die-oor soet lekkerte daarvan. Dit was wraggies ‘n unieke hip-hip-hippie-hoera verjaardagkoek!
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
