NewsNews

‘Ons mag weer dans! Olé!’

VAALPARK. – Carli Olivier se oë en hande praat saam terwyl sy die verskillende vorme van Spaanse dans verduidelik. Haar hande en arms neem sommer so vanself posisie in, asof sy net wag vir meesleurende kitaarmusiek om te begin.

Sy het reeds al die kwalifikasies wat mens in dié besondere kunsvorm as danser en afrigter kan verkry. Die produksies wat die Carli Spanish Dance Productions op die planke bring is legendaries.
Die kere wat hulle saam met ‘n volle simfonieorkes en koor onder leiding van die befaamde Richard Cock kon optree, sonder sy uit as ‘n uitsonderlike voorreg wat sy graag sal wil herhaal.
Verlede jaar het Carli en haar dansers ook saam met Suid-Afrika se dansende perde, die Lipizzaners opgetree. “Dit was baie spesiaal. Alles het so mooi gelyk, die wit perde, die ruiters in hul rooi baadjies en ons in ons rooi rokke,” vertel sy.
Nina en Carli Olivier. Nina geniet dit ook om te dans en neem klasse in ballet en Spaanse danse.Foto’s: Verskaf
Naas die danse, het Carli ook ‘n besondere liefde vir Spanje, Spaans en die Spaanse kultuur ontwikkel. Sedert 2014 probeer sy om elke jaar Spanje toe te gaan. “Die Spanjaarde kan nie my noemnaam uitspreek nie, so as ek daar is, noem almal my op my doopnaam, Sophia. Ek kan die taal ook al redelik verstaan en probeer hard om dit te leer praat. Hul siesta tyd was aan die begin vir my vreemd. Ek het een keer vir vier ure op ‘n trap gesit en wag omdat ek daarvan vergeet het,” beduie sy.
Ten spyte van haar liefde vir haar tweede hartland, bly sy in murg en been Suid-Afrikaner. “Ek is lief vir my land en sy mense. Ek het nog altyd hoop vir Suid-Afrika. Ons moet net ons eie geleenthede skep. Ek het geleer om groot te droom en hard te werk.” Wanneer sy nie dans afrig, self dans of besig is om ‘n dansproduksie uit te werk, te bemark of te organiseer nie, geniet sy tyd saam met haar gesin. Haar dogter, Nina (8) doen ballet en Spaanse danse en is een van haar ma se grootste ondersteuners.
“Dis die lekker van Spaanse danse,” daar is nie ‘n ouderdomsbeperking nie. Ek het al van 4-jariges tot heelwat ouer dames leer dans.” Vir meer inligting oor klasse en opkomende produksies – die eerste is Saterdag, 14 November om 12:00 by die Etienne Rousseau Teater in Sasolburg, besoek gerus die Carli Spanish Dance Productions se facebookblad.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gugulethu Kgongoane

Gugulethu Kgongoane is the Online Editor of Sedibeng Ster. Email: gugu@mooivaal.co.za She is also an online journalist of Vaalweekblad. Email: gugu@mooivaal.co.za
Back to top button