NewsNews

Daar’s vrede in kuns

VANDERBIJLPARK. – Nelene Opperman was een jaar oud toe sy wou teken. Sy sê haar ma het gesukkel om haar aan die slaap te kry, want die kleine Nelene het deurnag met ‘n potlood op papier geskribbel.

“Ek raak depressief as ek nie my kuns kan beoefen nie. Ek moet altyd iets kreatiefs doen,” vertel sy, terwyl sy na die sketse van haar kinders wys. Waar ander ouers hul kinders se lewens in foto’s vasvang, doen Nelene dit met sketse. So het sy sketse van Miané (7) en Natasha (15) van hul babadae af.
“Ek beplan om elke groot geleentheid van hulle te teken, van hul matriekafskeidsfunksies tot hul troues,” glimlag sy. Haar werk as bestuurder hou haar besig, maar naweke kan sy haar kuns beoefen.
In volkleur. ‘n Skets wat Nelene ‘n paar
jaar gelede van haar dogter, Natasha,
gedoen het. Foto: Verskaf
Sy doen ook gesigsketse vir mense op bestelling. “Ek werk van foto’s af. Mense WhatsApp vir my ‘n foto, dan druk ek dit en doen die skets van daar af. Een skets kan my ‘n naweek besig hou. Meeste is potlood, maar ek werk in kleur ook. Ek het juis nou weer vir my spesiale kleurpotlode gekoop,” verduidelik sy. Sy glimlag, maar haar oë verklap ‘n dieper hartseer.
‘n Potloodskets wat sy van haar dogter,
Miané, en ‘n perd gedoen het. Foto:
Verskaf
“Die ekstra geld help. Na die ongeluk is daar steeds baie uitgawes. Maar, ek is dankbaar, my man het ‘n goeie medies. Hulle het Maart die penne uitgehaal,” sê sy en ek hoor die rouheid van laasjaar se Driehoek-tragedie in haar stem. Vir ‘n oomblik is daar stilte. Haar dogter, Natasha, het baie seergekry in die brug-tragedie en het onder meer haar been en pelvis gebreek. Natasha het steeds ‘n bloedklont in haar long en die trauma van daardie dag gooi nog lang skaduwees oor die dapper 15-jarige en haar gesin.
“Sy léwé,” sê Nelene, en die keer bereik haar glimlag ook haar oë. “Kyk, hier het ek sketse van my twee kinders gemaak toe hul onlangs gaan perdry het.” Die een skets het Miané vasgevang waar sy ‘n perd soen. Pragtig. Perd en kind lyk tevrede. Gelukkig. Net soos wat Nelene is elke keer as sy agter haar esel inskuif en in haar kuns vrede vind. Gaan volg haar gerus op facebook, @Nelene kunsblad.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gugulethu Kgongoane

Gugulethu Kgongoane is the Online Editor of Sedibeng Ster. Email: gugu@mooivaal.co.za She is also an online journalist of Vaalweekblad. Email: gugu@mooivaal.co.za
Back to top button