Slegs haar goeie vriendin, Leonie Gouws, wat verlede jaar die seremonie gelei het waartydens Rita by die Riverside Sun-hotel in Vanderbijlpark met haarself getroud is, sowel as twee verslaggewers van Vaalweekblad, was tydens hierdie rare seremonie teenwoordig.
Rita het omsteeks 11:00 by die parkie aangekom in ’n voertuig wat met ballonne en linte versier is en later vanuit die motor te voorskyn gekom in ’n blou rok en blou handskoene.

“Dit is blou Maandag,” het sy geskerts.
Rita het dadelik na Leonie gestap en haar omhels waarna die twee na ’n plek dieper in die parkie gestap het om die seremonie af te handel.
By ’n bruggie in die park het hulle gestop. Leonie het toe gesê:
“Ons is vandag hier om Rita se eerste herdenking van haar sologame huwelik te vier. Voordat ek haar gaan vra om haar beloftes te hernu wil ek net graag sê: ‘Rita, jy lyk pragtig vandag!’
“Rita is die mens met die mooiste geaardheid, die sagste hart en niks is ooit vir haar te veel as dit kom by haar medemens nie. Haar hand is altyd oop en sy help oral waar sy kan.”

Leonie Gouws, in die parkie waar Rita Maandag die huweliksbeloftes aan haarself hernu het. Foto’s: Christiaan Cloete
Daarna het Rita die troubelofte wat sy verlede jaar aan haarself gemaak het hernu:
“Hiermee bevestig ek, Rita Woodall-Terblanche, dat ek aan myself trou belowe, dat ek myself sal liefhê, myself sal versorg, myself sal onderhou, aan myself my beloftes sal nakom en dat ek sal sterk wees vir alles en almal om my, vir die pragtige natuur, want ek weet, en almal weet dat as jy nie vir jouself lief is nie, kan jy nie vir die volgende mens voor jou lief wees nie.
“As jy nie vir jouself omgee nie, kan ek nie vir jou omgee nie en daarom sal ek uit my pad uit gaan om hierdie jaar wat voorlê, myself lief te hê.
“Die eerste jaar was ’n sukses en ek glo dat ons ook van die tweede jaar ’n sukses sal maak.”
Op daardie noot het Leonie vir Rita, namens haarself en al haar geliefdes ’n voorspoedige jaar en goeie gesondheid toegewens. Die twee het toe weer omhels.
Volgens Rita kon haar seun, wat in Ballito bly, nie die seremonie bywoon nie. Haar broer kon dit ook nie maak nie. Almal het haar egter gelukgewens.
Rita sê sy het die inperkingstyd vreeslik geniet en baie gelees. Dit was vir haar lekker om tyd met haarself te kon spandeer. Sy het ook in Augustus haar verjaardag alleen by haar huis gevier.
Die 64-jarige Woodall-Terblanche het verlede jaar koerantopskrifte gehaal toe sy met haarself getrou het.
Terwyl talle mense haar gelukgewens het, was mense erg krities oor die huwelik. Rita, wat nie ’n selfoon gebruik nie en ook nie op sosiale media is nie, sê sy steur haar nie aan mense se opinies nie.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
