VANDERBIJLPARK. – Vyf honde groet luidkeels, opgewonde oor die vreemdeling in hul poorte. “Hulle is almal aangeneem. Rescues”, beduie Cindy le Roux, terwyl die kortbeen brigade stertswaaiend agter haar man en die blik met snoepgoed aandraf.
Op die tafel lê daar ‘n bol fluweelsagte grys wol langs ‘n hekelpen en die begin van ‘n olifant se ronde lyf. “Ek is besig met ‘n bestelling van olifante en skapies,” sê Cindy terwyl sy haar skeppings op die tafel uitpak. Daar is hase met slap ore, ‘n blou drakie, ‘n seekoei, ‘n tandemuis en selfs’n Eeyore, kompleet met ‘n aangeknipte stert.
Saam vorm die sagte diertjies Stitches of Love. Die naam het hulle onlangs gekry, alhoewel Cindy al sowat ‘n jaar gelede met die eerste een begin het. Dit was net nadat haar suster, Jacky skielik op 27 September 2019 oorlede is. “Sy was maar 47. Dit was ‘n geweldige skok vir my. Ons was baie na aan mekaar, veral na my ouers se dood,” vertel Cindy.

“Ek het net geweet ek moes iets kry om my mee besig te hou. Wel, toe leer ek myself hekel deur YouTube video’s te kyk.” Sy sonder ‘n wit beertjie uit. “Hierdie was die eerste een wat ek klaargemaak het. Aan die begin het ek baie gesukkel, want ek het nie ‘n patroon gehad nie. Ek het net aanhou probeer en uitgetrek en weer probeer, tot ek dit reggekry het. Toe dit klaar was, het ek dit op Facebook geplaas dat my vriende kan sien. Dis toe dat hulle vra of ek nog sal maak en verkoop.”
Minder as ‘n jaar later, en sy het al alles, van ‘n vlermuis tot ‘n koei, gehekel. “As mense my vir iets nuuts vra, dan sê ek altyd hulle moet net kans gee dat ek dit eers probeer,” lag sy. So ver werk haar skeppings nog pragtig uit, want Cindy gee nooit op nie.
Elkeen van die gehekelde diere bring vir haar ‘n stukkie vertroosting, hoop en genesing.
“Ek hoop dat hul nuwe eienaars die liefde sal ervaar waarmee ek hulle gemaak het. Elke steek word met liefde gedoen en is opgedra aan my suster,” vertel Cindy met blink oë.
Vir meer inligting gaan volg gerus Stitches of Love SA op Facebook. Cindy het ook Sondae ‘n stalletjie by Carels Vlooimark in Vanderbijlpark.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

