Local news

CW-woonstelle skuld R60.2 miljoen, krag afgesny oor onwettige aansluitings

ELM lei glo maandeliks 'n verlies van R1.3 miljoen.

VANDERBIJLPARK – Die Emfuleni Plaaslike Munisipalitei (ELM) het kragtoevoer na verskeie woonstelkomplekse in Vanderbijlpark se CW-gebied afgesny nadat onwettige elektrisiteitsaansluitings tydens ’n ondersoek ontdek is.

Die ondersoek het gevolg nadat inwoners die munisipaliteit van die onwettige aansluitings in kennis gestel het. ’n Multidissiplinêre span het agt komplekse geïdentifiseer wat gesamentlik R60.2 miljoen aan die munisipaliteit skuld.

Volgens die munisipaliteit verloor hy maandeliks meer as R1.3 miljoen aan elektrisiteitsinkomste en sowat R350 000 aan waterinkomste weens onwettige aansluitings en wanbetaling.

Onwettige C-flex-kabels en stroombrekers is tydens die operasie verwyder. Manhattan Flats in CW5 se kragtoevoer is ook afgesny nadat bevind is dat die kompleks onwettig elektrisiteit aan die nabygeleë Villa Rosa-meenthuise voorsien het.

Teboho Morobi van die munisipaliteit se inkomste-afdeling het gesê die operasie het aan die lig gebring hoe sommige verbruikers in Ferrantistraat, CW5, elektrisiteit onwettig gebruik en sodoende die munisipaliteit se verliese vergroot.

“Vandag is ’n produktiewe dag vir die munisipaliteit. Ons het ontdek hoe sommige verbruikers in CW5, Ferrantistraat, elektrisiteit steel en die rekening laat klim. Inwoners word versoek om hulle van hierdie doelbewuste wetteloosheid te weerhou,” het Morobi gesê.

Dit is volgens die munisipaliteit die eerste van verskeie soortgelyke operasies wat nog in Emfuleni beplan word. Verdere onaangekondigde optredes sal oor die munisipale gebied volg.

Die span het amptenare van Emfuleni se elektrisiteits- en inkomste-afdelings, kontrakteurs, die Suid-Afrikaanse Polisiediens en Gautengse verkeersbeamptes ingesluit.

Die munisipaliteit versoek die betrokke komplekse om die Finansies- en Inkomste-afdeling te kontak om die herstel van kragtoevoer te reël. Slegs eiendomseienaars of regspersone wat namens ’n deeltitelskema se regspersoon optree, mag oor die hetaansluiting onderhandel.

Huurders moet ’n geldige volmag, ’n beëdigde verklaring wat by die polisie afgelê is en ’n afskrif van die eienaar se identiteitsdokument indien.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button