Een dood, twee ernstig beseer in skietvoorval by taverne
Nooddienste is vroeg Saterdagoggend na ’n taverne in Theoville ontbied waar drie mense geskiet is.

VANDERBIJLPARK. – Een persoon is dood en twee ander ernstig beseer in ’n skietvoorval by ’n taverne in Theoville vroeg Saterdagoggend.
Volgens CERT-SA se Vaal-tak is nooddienspersoneel omstreeks 02:15 na die toneel ontbied.
Een persoon het ’n noodlottige skietwond opgedoen en is op die toneel dood verklaar.
Die ander twee beseerdes is deur Gauteng se nood mediese dienste na ’n hospitaal vervoer.
CERT-SA het die Gautengse nood mediese dienste, Netcare 911 en die Barrage-polisie vir hul hulp op die toneel bedank.
Die organisasie het ook sy medelye met die oorledene se familie en naasbestaandes betuig.
Die omstandighede rondom die skietvoorval is nog nie bekend nie.
