Gerda Senekal, VF Plus-raadslid: Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, beklemtoon verder in ‘n mediaverklaring dat Rand Water se besluit om weens wanbetaling, Emfuleni se waterdruk met 20% te verminder, die gevolg is van die munisipaliteit se onvermoë om hul afbetalingsooreenkomste na te kom.

Die Emfuleni-munisipaliteit skuld Rand Water R1,1 miljard en is R994 miljoen agterstallig. Eskom het intussen die elektriese stroomsterkte vanaf 600 na 300 ampère verminder wat die watertoevoer na groot gedeeltes van Emfuleni belemmer. Rand Water voorsien die Langerand-waterpompstasie in Sonlandpark in Vereeniging van water, waarna dit na verskeie watertorings in Emfuleni afgevoer word. Die VF Plus is van mening dat die verminderde elektriese stroomsterkte en die verlaagde waterdruk besig is om daartoe te lei dat van die watertorings leeg loop.
“Inwoners wat in die verlede boorgatwater gebruik het, kan nie langer van dié bron gebruik maak nie, weens ondergrondse waterbesoedeling.
“Belastingbetalers word daagliks gekonfronteer met kabeldiefstal, waterlekkasies, verouderde infrastruktuur en water- en elektrisiteitonderbrekings wat toegeskryf word aan wanbestuur van die Emfuleni-munisipaliteit,” sê Senekal.
“Die VF Plus het by verskeie geleenthede die burgemeester, rdl. Gift Moerane en die munisipale bestuurder, Lucky Leseane, gevra om te verduidelik waarom hulle nalaat om Eskom en Rand Water te betaal, aangesien die munisipaliteit elke maand sowat R370 miljoen van belastingbetalers ontvang,” het Senekal afgesluit.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
