Die ERT se beligting- en klank gurus, Imile de Bruin en Sybrandt Lindvelt, het meer oor hul onderskeie spesialiteitsvelde vertel. Die toergroep kon ook ervaar hoe dit vir kunstenaars voel net voordat ‘n vertoning begin, toe die verhoogligte afgesit is, die gordyne toegtrek is en die musiek begin speel het. Dit was nogal ‘n ervaring toe die gordyne stadig oopgaan terwyl “Barcelona,” gesing deur Freddie Mercury en Montserrat Caballé al hoe harder speel en verskeie gekleurde ligte oor almal begin dans.


Om 12:00 het die dansers van die Carli Olivier Spanish Dance Productions vir die eerste keer hierdie jaar hul voete op die maat van die meesleurende La Pasión begin stamp. Dit was ook die laaste keer wat hul onder dié naam opgetree het. Die groep sal voortaan as La Compañia Sophia bekend staan. Die eerste helfte van die program was gevul met klassieke Spaanse danse, die dansers geklee in swart. Ernstig. Passievol. Stelselmatig het die gemoed gelig, die rokke kleurvoller geword, het die kasjanette vroliker geklap en het die dansers se gesigsuitdrukkings van ernstig na vreugdevol verander.

Vir die laaste vier nommers het die senior studente van Georgina’s Dance Studio saam gedans en die verhoog is omskep in ‘n kleurryke skouspel. Die vertoning is afgesluit met ‘n emosioneelbelaaide dans op die maat van Amigos Para Siempre (Friends for Life). As ‘n bonusnommer, het hulle ‘n unieke weergawe van die beroemde Jerusalema gebied.
Die dansers kon darem asem skep voordat die aandvertoning om 18:00 afgeskop het. Dit het ook met ‘n eerste gepaard gegaan, naamlik ‘n aandmark reg voor die teater se ingang.
Daar is nog ‘n paar vertonings wat wag vir teatergangers hierdie jaar. Vir meer inligting, besoek etiennerousseautheatre.co.za
.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

