Hierdie is ‘n dankie aan soveel van die hardwerkende raadslede (almal van opposisiepartye) wat steeds geduldig en gefokus kan bly terwyl soveel lede van die publiek hulle beledig, persoonlik aanval en slegsê.
Hulle kyk vorentoe, byt vas en probeer steeds ‘n verskil maak ten spyte van die hopelose cANCer. Hulle beheer nie die werkers, toerusting of begrotings nie, maar moet gereeld hoor dat hulle lieg, net vet salarisse kry en “ons het vir hulle gestem, en nou doen hulle niks nie!”, maar die klakouse het duidelik nie eers die geringste konsep van hoe ‘n meerderheidsregering werk nie. Hulle vergeet ook bitter gou van dinge waarmee hulle al voorheen gehelp is. Dan is daar gemeenskapsdiensvrywilligers – mense wat op eie onkoste iets vir hulle gemeenskappe doen bloot omdat hulle kan. Hierdie mense loop ook dikwels deur onder onnodige kritiek, want tant Sanna wip haar as ‘n admin op ‘n groep vir haar vir die derde maal moet vra om nie prentjies van hasies of Bybelversies te plaas nie, maar môre vra sy gou hulp as haar Yorkie weer uitglip en die buurman se Rottweiler die brakkie wil raps.
Hou op kla oor alles wat verkeerd is met/in Emfuleni en spring self in. As jy nie self iets kan doen nie, ondersteun ten minste die mense wat bereid is om iets te doen.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
