SportSport

Ruann teken kontrak met internasionale boksspan

Internasionale geveg wink vir Valie in Desember.

VANDERBIJLPARK – Die Oud-Vaaldriehoeker, Ruann Visser, is op pad na Anthony Joshua se oefenkamp in Dubai, waar hy die Britse swaargewigbokser gaan help voorberei vir sy langverwagte geveg teen Tyson Fury.

Visser, die voormalige Suid-Afrikaanse swaargewigkampioen, het dié nuus op Facebook bekendgemaak. Dit is nie die eerste keer dat Visser by die voorbereiding van wêreldklas-swaargewigte betrokke is nie. Hy was in die verlede onder meer by oefenkampe van boksers soos Oleksandr Usyk en Wladimir Klitschko betrokke.

Ruann Visser en Eddie Hearn in Dubai.

“Ek sal by Anthony Joshua se oefenkamp aansluit om hom te help voorberei vir Tyson Fury vir wat beloof om een van die grootste gevegte in die boksgeskiedenis te wees,” het Visser geskryf.

Joshua en Fury pak mekaar op 11 Desember in die Principality Stadium in Cardiff, Wallis. Vir Visser is die geleentheid ’n kans om verdere ervaring op die internasionale verhoog op te doen en terselfdertyd sy eie loopbaan vorentoe te neem.

“Dit is ’n groot eer om vertrou te word om deel van hierdie voorbereiding te wees. Ek is gereed om alles wat ek het by hierdie kamp te gee,” het hy gesê.

Visser het intussen ook aangekondig dat hy amptelik by die internasionale boksspan Throwback Fighters aangesluit het. Die ooreenkoms vorm deel van sy planne om weer internasionaal mee te ding en sy loopbaan ’n nuwe hupstoot te gee.

“Internasionale gevegte is die volgende hoofstuk en ek is gereed om die Suid-Afrikaanse vlag hoog te laat wapper,” het Visser op Facebook geskryf.

Hy sê die ooreenkoms gee hom nuwe motivering om voluit vir sy volgende gevegte voor te berei. Hy het ook sy borg, Damascus Sport, bedank vir die ondersteuning en aangekondig dat afrigter Harry Ramogoadi Manaka by sy span aangesluit het. Sy broer, Ruben Visser, kan moontlik ook weer in sy afrigtingspan wees.

Visser het verder hulde gebring aan afrigter Steve Kalakoda wat volgens hom altyd ’n spesiale plek in sy hart sal hê. Hy het ook sy vrou, Kayla, en hul twee dogters vir hul ondersteuning bedank.

Daar is ook ’n moontlike geveg vir Visser in die Verenigde Koninkryk in Desember ná die Joshua-oefenkamp. Hy beklemtoon egter dat dié geveg nog nie bevestig is nie.

“Ek is opgewonde oor wat voorlê en sal die besonderhede deel sodra dit gefinaliseer is,” het Visser gesê.

Eddie Hearn, die bekende Britse bokspromotor, het tydens ’n vorige oefenkamp ook belangstelling in Visser getoon.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button