Ek dink hy gaan eendag ‘n ingenieur word. Vanoggend ontdek hy ‘n spreier in die gras en gaan karring summier totdat die ding in ‘n ander rigting spuit. Vanmiddag is hy in ‘n stadium nie meer lus vir swem nie. Hy klim uit en gaan sit op ‘n stoel, soos wat ‘n koning op sy troon sal sit. Maar iets is nie na sy sin nie. Hy frons, mens kan sien hy dink. Die volgende oomblik wip hy af en skuif die een stoel presies gelyk met die ander. Toe pla sy pa se sak hom weer. Hy het met die ding gekarring totdat dit presies reg en netjies langs die stoel gestaan het.
Dan gee hy weer aandag aan sy onderdane wat teen die kant van die swembad hang. Hy staan op die trap en toe sien hy haar! Sy is seker so drie jaar oud. Geklee in ‘n helderpienk baaistuk. Bruin krulhaartjies, blou vlerkies aan. Sy huppel langs haar oupa op pad swembad toe.
Die Klein Prinsie se mond val oop oor die skoonheid wat in aantog is. Hy kan sy oë nie van haar afhou nie. Ai, maar sy sien hom nie eens raak nie. Al haar aandag is by haar nommer een held, haar oupa.
Klein Prinsie skuif nog verder op haar ranglys af, toe die ander groot held in haar lewe, haar pa sy verskyning maak. Weer val die Klein Prinsie se mond oop en vir ‘n tweede keer staan hy in totale verstomming. Die keer oor die skattige, ek skat haar omtrent een, prinsessie met ‘n bos donker krulle in haar pa se arms. Die Klein Prinsie vind stadig sy weg nader aan die twee skoonhede wat kraai van plesier as oupa of pa hulle in die water rondtrek. Tot die kleinste in ‘n stadium begin huil. Prinsie steek geskok op die trap vas. Sy ernstige gesiggie vertrek in afkeer oor die nare lawaai. Hy loop eerder.
Ongelukkig wag daar vir die Klein Prinsie ‘n geweldige skok binne die volgende paar maande. Hy gaan van sy troon af tuimel en sy onderdane se volle aandag verloor. Sy ma is omtrent 6/7maande swanger …
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
