Sy wil ‘n boodskap oordra aan jong meisies en vroue. “Ek wil hê elkeen moet besef daar is lewe na verkeerde besluite. Jou pad na herstel begin by daardie eerste goeie besluit,” verklaar sy beslis.
Lorraine se aanhangers op haar twee Facebookblaaie, My Lewe is ‘n Storie en EkSêJySê, word daagliks meer. Daar gesels vroue lekker saam. Want elkeen het mos maar sy eie storie …

Skryf was nog altyd deel van haar mens-wees. “Ek het in standerd sewe 42 uit 50 vir ‘n beskrywende opstel by mnr. George Weideman in Port Elizabeth gekry,” vertel sy. Dié George Weideman, die bekroonde digter en skrywer? “Ek het nog altyd gewonder daaroor,” sê sy en lag trots toe Google bevestig dat wyle mnr. Weideman wel op daardie stadium in Port Elizabeth skoolgehou het.
Haar man, Frans, skud net sy kop en bestel nog ‘n koffie. Die twee ken mekaar al van laerskooldae af. Hulle was in standerd vier gekys, maar Lorraine het die kys op dramatiese wyse verbreek. “Daardie jare het ons bendes gehad. Soos Trompie-hulle, nie die gangsters van vandag nie. Iedergeval, die oggend jaag die seuns weer die meisies en ek val. Toe ek daar opvlieg was Frans die naaste aan my. Hy het niks met die val te doen gehad nie, maar ek het net daar op die hoogste klip geklim en hom afgesê,” vertel Lorraine.

Hulle was deel van Leeuwspruit Primêr se eerste leerlinge in die 70’s. Die skool het nog nie ‘n heining gehad nie en die kinders het pouses langs die spruit gespeel. “Mnr. Lombard het saam met ons kleilat gegooi,” loop hul onthou op ver paaie.
Daarna het hul lewens vreemde draaie gemaak, maar Lorraine en Frans is uiteindelik in 1990 getroud.
“Ek het hom eendag gevra wanneer het hy my liefgekry, en toe antwoord hy, ‘dit was in standerd vier,’” onthou Lorraine.
Die twee verstaan mekaar en hy bel haar elke middag om haar te herinner om middagete te eet. “Jy weet mos, as mens eers begin skryf, dan vergeet jy van alles,” beduie Lorraine.
Sy geniet die skrywery en hoop om die opvolg op My Lewe is ‘n Storie in 2021 te publiseer. “Ek wil ook vroue landwyd begin toespreek. Hulle moet weet, jou lewe kan weer regkom, maak nie saak hoeveel en hoe lank jy verkeerde besluite geneem het nie. Daar is hoop. Daar is altyd iemand wat sal help. In my lewe was my ouers bankvas agter my. Kry ‘n ondersteuningstelsel en kom uit jou omstandighede. Begin oor, want jy kan!”
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
