HealthNews

Polisie se werktuigkundiges “dryf byna weg” in rioolwater!

Powerville se besighede span saam om strome rioolvuil te tem

Retha Fitchat

VEREENIGING. – Die goeie reën van die afgelope weke is wyd in die Vaaldriehoek verwelkom maar in Powerville, die hartklop van Vereeniging se ligte nywerheidsbedrywighede, het dit onwelkome probleme veroorsaak toe die gebied deur rioolwater oorstroom is.

Dit was veral in Karibastraat waar die stormwaterkanale oorvol was en rioolvuil van die skouterrein se kant af aan die voorkant van sakepersele oorgespoel het. Tydens Ster se besoek, sowat drie weke gelede, het ‘n dam rioolwater so groot soos ‘n rugbyveld ook agter die persele opgedam.

Die stinkende water het in liters deur die agterste mure van die persele gesyfer en in groot plasse in die werksomgewings gelê. Die ondraaglike reuk het jou oral gevolg. Besoekers kon gelukkig gou ontsnap, maar werkgewers en werknemers in dié gebied moes weke lank daarmee saamleef.

“Baie van ons het nie eers meer kosblikkos werk toe gebring nie. Jy was eenvoudig te naar om te eet,” sê een van die werknemers.

Dit is nie net sakeondernemings soos ‘n groot transportsaak en informele kosverskaffers wat onder die rioolstank gely het nie. Lede van die Polisie se Blitspatrollie, die berede-eenheid, die onluste-eenheid en die SAP se voertuigwerkswinkels moes ook maar die neus toedruk en voortgaan met hul werk asof niks verkeerd was nie.

Dit was veral die Polisie se werktuigkundiges wat die spit moes afbyt. Rioolwater het die grootste deel van hul werksgebied oorgeneem en die manne moes spesiale planne maak om aan die onderstelle van voertuie te kon werk sonder om heeldag op die rug in rioolwater te lê.

‘n Groep van sowat 20 sakelui in die omgewing, die Powerville Industry Forum, het besluit dinge kon nie langer so aangaan nie. Hulle het besluit om saam te span en die verstoppings in die stormwaterdreine self oop en skoon te maak. Die sakeonderneming Lime het toerusting beskikbaar gestel en ander besighede het bakstene en andere materiaal geskenk of arbeiders verskaf om die noodsaaklike werk te doen.

“Ons is nou besig om mangate in te sit waar die stormwaterdreine ondergronds geblok was sodat sulke verstoppings in die vervolg makliker oopgemaak sal kan word,” sê mnr. Hannes Oberholzer, voorsitter van die Powerville Industry Forum. Hy sê die forum verkies om positief te bly en probleme soos dié sover as moontlik self aan te pak, eerder as om gefrustreerd te raak omdat die munisipaliteit nie die uitdagings kan baasraak nie.

Die forum het reeds verskeie ander projekte onderneem, soos om die voorheen gehawende brug oor die treinspoor in hul omgewing te herstel.

Mnr. Kevin Jackson, voorsitter van die Vereeniging Business Cooperation (VBC), ‘n organisasie wat ook reeds heelwat opgraderingswerk in Vereeniging se middestad en Duncanville gedoen het, het Powerville se sakelui geloof vir hul betrokkenheid en samewerking om ‘n positiewe verskil in hul omgewing te maak.

FOTOGRAAF: SANET SWANEPOEL

Die stormwaterkanaal in Karibastraat wat oorspoel het, waarna rioolvuil onbeheersd voor en binne-in besighede se persele ingevloei het.
Stinkende plasse rioolwater het werkers en besoekers by die ingang van verskeie ondernemings in Karibastraat begroet.

 

Damme rioolwater, so groot soos ‘n rugbyveld, het in Powerville opgedam voordat sakelui ingegryp en die verstopte stormwaterkanale en dreine ontblok het.
Sakelui van Powerville het onder andere grondverskuiwingswerktuie soos dié beskikbaar gestel om die dreine oop te maak en riete en ander verstoppings te verwyder.
Die Polisie se werkswinkelarea was behoorlik deurweek nadat rioolwater aan die agterkant van die perseel deur die mure gesyfer het. Dit het ‘n groot gesondheidsgevaar vir polisielede wat in dié toestande moes werk, ingehou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button