Local newsNewsNews

Hul handgebreide komberse maak ander warm

Malie en Magda seën ander met hul handgebreide komberse.

VANDERBIJLPARK. – Malie Reynders (83) en Magda Oosthuizen (61) spandeer groot gedeeltes van elke dag op die stoep.

Die twee is goeie vriende en Magda help Malie waar die ouderdom haar nie meer wil toelaat om alles self te doen nie.

Die twee vriendinne sit egter nie en niks doen nie. Alhoewel albei slegs van pensioene afhanklik is, maak hul seker dat hul genoeg geld opsy sit om wol te kan koop.

Op hierdie voorstoep is die breinaalde en hekelpen bykans nooit stil nie. Tussen die twee dames brei en hekel hulle komberse wat hul dan vir ander skenk.

Tersia Luyt het Ster geskakel en gesê Malie en Magda is vir haar ‘n inspirasie. “Ek het ook al ‘n kombers van hulle gekry en ek waardeer dit so baie,” het sy gesê. Dis ook nie sommer net kniekombersies nie, die komberse lê ‘n dubbelbed vol.

Elke kombers neem hul omtrent agt maande om te voltooi en die wol vir die stroke word so stuk-stuk aangekoop. Hulle werk nou juis aan die laaste stroke van ‘n kombers wat hul vir ‘n oom wat sukkel in die gemeenskap gaan skenk.

Dan is daar ook die pasvoltooide bont kombers wat hul aan die kerkkantoor by NG Kerk Oospark gaan oorhandig om uitgeloot te word. “Die geld kan dan gebruik word om die arm mense in die kerk te help,” het Malie gesê.

Die duo glo daaraan dat hul hande moet besig bly en hulle is bly as hulle in die proses ander kan help. Die helpende hand word ook nie net na mense uitgesteek nie, Tersia vertel daar is ook ‘n mak duifie wat elke oggend kom inloer om kos te kry.

Malie Reynders (83) en Magda Oosthuizen (61) met een van die handgebreide komberse Foto: Tersia Luyt

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button