‘Trae reaksie’ van brandweer weer onder die vergrootglas
Daar het niks van die besighede oorgebly wat tydens die brand in die Vanderbijlpark-middedorp in die slag gebly het nie.
VANDERBIJLPARK – Die brand het verlede Donderdagaand uitgebreek en drie ondernemings op die hoek van Attie Fourie- en Paul Sauerstraat is verwoes.
Een van die eienaars van die winkels het Saterdag voor sy winkel gestaan waar daar net as oorgebly het.
Volgens hom het die brand vermoedelik in die salon langs sy winkel ontstaan.
Dit kon egter nie bevestig word nie. Dit is wel duidelik dat al drie die winkeleienaars grootskaalse skade opgedoen het.
Raadslid Carla Cato van die VF Plus in Emfuleni is egter van mening dat die brandskade aan die winkels aansienlik minder kon gewees het indien die nooddienste betyds op herhaaldelike oproepe gereageer het.
“Die eienaar van die bedwinkel het die VF Plus meegedeel dat hy kort nadat hy van die brand in kennis gestel is, vir byna ’n halfuur probeer het om die nooddienste te ontbied.
“Niemand het die telefoon beantwoord nie. Toe die brandweer eindelik opgedaag het, het die haarsalon se dak reeds begin instort. Geen inhoud kon gered word nie,” vertel Cato.
“Die VF Plus beskou die trae reaksie as erge nalatigheid en versuim. Die party het reeds ’n brief aan die brandweerhoof, Mhlengi Makhubalo, gestuur en eis ’n dringende verduideliking oor waarom daar nie dadelik op die noodoproepe gereageer is nie,” sluit sy af.

