Doen jou Midmar Myl by Bass Lake
Vir Valies en ander deelnemers van die Rand is daar 'n opwindende geleentheid om die Midmar Myl-uitdaging Sondag (14 Maart) in Bass Lake, Henley on Klip, te voltooi.
Die jaarlikse Midmar Myl swemresies vanjaar afgestel weens COVID-19 en die organiseerders het die geleentheid geskep vir getroue deelnemers om dié uitdaging (1.6km swem) op hul eie wyse aan te pak en in ‘n swembad, dam of selfs die see te voltooi. ( https://www.midmarmile.co.za/ )
“Die aankondiging was ‘n groot teleurstelling vir baie getroue deelenemers van die Midmar Myl. In ons vriendekring het ‘n paar gevra ons moet ‘n roete uitmerk in Bass Lake van 1.6km sodat hulle die afstand kan swem,” vertel Conrad Lamont.
‘n Roete is uitgewerk en ‘n groep duikers het toe verlede naweek die merkers gaan insit. Dit het daarna vinnig duidelik geword dat dit ‘n puik idee was en mense het hul belangstelling begin toon. “Weens die groei in belangstelling het ons met die eienaars van Bass Lake Adventures ‘n toegangspakket uitgewerk van R100 per persoon, wat ‘n lekker burger na die resies insluit,” sê Conrad.
Mense moet egter daarop let dat die geleentheid net geskep is en dit nie ‘n offisiele resies is nie. Al die swemmers is verantwoordelik vir hulle eie tydneming wat hulle dan self moet deurstuur na die Midmar Myl se organiseerders vir suksesvolle erkenning van voltooiing.
Daar sal streng voldoen word aan COVID protokols en slegs groepe van 10 swemmers elke 10 min sal van die beginpunt en eindpunt gebruik maak. Die swem sal van 09:00 tot 12:00 gefasiliteer word. Daar word reeds sowat 100 swemmers verwag. Die maksimum is 250 weens COVID beperkings.
- Vir meer inligting kontak Conrad by 083 236 5855.

Midmar Myl-aksie: illustrasiefoto
