Pa steeds in hospitaal, weet nog nie van seun se dood nie
VANDERBIJLPARK. - Dit is reeds meer as ‘n maand na die tragiese skietvoorval waartydens die 18-jarige Nathan Hebler noodlottig buite die Slap Chips wegneemete-winkel gewond is. Intussen is sy pa Johan (52) steeds in die hospitaal en is hy van ‘n ventilator afhanklik om te kan asemhaal én weet hy nog nie van sy seun se afsterwe nie.
Johan was vir ‘n geruime tyd nadat hy in die Netcare Unie-hospitaal in Alberton opgeneem is, in ‘n mediese koma, waarna hy mettertyd stadig wakker gemaak is. “Johan het Maandag verbetering getoon en kon vir die eerste keer bietjie opstaan en water drink. Hy is steeds op die ventilator, so hy kan nie regtig praat nie,” sê Bianca Venter, woordvoerder vir die familie. Sy sê haar oom Johan en tannie Catherina kommunikeer met mekaar “in hulle eie sign language”.
“Oom Johan weet nog nie van Nathan nie, maar my tannie sê hy kyk baie in haar oë asof hy antwoorde soek.” Die goeie nuus is dat die dokter positief is oor Johan se vordering. Die familie hou duim vas dat Johan binnekort na ‘n versorgingsentrum oorgeplaas kan word, waarna hy dan kan huis toe kom. “Dit is vir ons ‘n senutergende tyd, want dit is al langer as ‘n maand en sy toestand is baie wisselvallig. Een dag gaan dit goed en die volgende dag sleg. Ons bid vir die dag wat Johan net kan huis toe kom,” sê Bianca.
* Johan en Nathan is op 2 Februarie omstreeks 19:00 raakgeskiet toe Tommy Phalatsi (49), ‘n inwoner van CW6 in Vanderbijlpark, met sy BMW X5 by die winkelsentrum se parkeerterrein ingejaag en skade aan verskeie voertuie aangerig het. Lawrence Townsend (59), een van die bestuurders van Slap Chips, is ernstig beseer toe hy tussen ‘n bakkie wat gestamp is en die sypaadjie vasgekeer was. Albei Townsend se bene is gebreek en hy het veelvuldige inwendige beserings opgedoen. Phalatsi het toe uit sy X5 geklim en op mense begin skiet. Nathan is twee keer getref (in die skouer en in die bors) en Johan is in die maag getref. Daarna het Phalatsi in sy kar geklim en sowat 1,5km in Duckhamstraat, CW6 gery waar hy twee mans langs die pad sien loop het. Willem Kriel (47), ‘n karwag en ‘n vriend was op pad huis toe toe Phalatsi langs hulle gestop het en op hulle losgebrand het. Willem is in die kop getref en is die Woensdagoggend in die hospitaal oorlede. Phalatsi het daarna na die Global-vulstasie in Sharpeville gery waar hy homself om die lewe gebring het.

