Local newsNewsNews

Eureka Skool se epilepsie bewusmakingsveldtog

Epilepsie raak 1 uit elke 100 Suid-Afrikaners. Die Eureka Skool in Vereeniging het onlangs 'n Epilepsie bewusmakingsweek gehou.

VEREENIGING. – Maandag, 8 Februarie was Internasionale Epilepsie Bewusmakingsdag.

Eureka Skool vir fisies- en verstandelik gestremde leerlinge kon hul jaarlikse epilepsie bewusmakingsweek eers twee weke later hou, aangesien die skole eers op 15 Februarie heropen het.

Suzilda Müller, ‘n arbeidsterapeut by die skool, sê hulle het die veldtog oor amper twee weke, vanaf 23 Februarie laat strek om seker te maak al die leerlinge word ingesluit.

Weens die Covid-19 regulasies is die leerlinge tans in twee groepe gedeel wat op afsonderlike dae skool gaan.

Gerda Janssen en Kamohelo Mphuthi tydens Eureka Skool se epilepsie bewusmakingsweek.

Ongeveer 80 leerlinge van die skool se 450 leerlinge ly aan epilepsie.

Suzilda sê dat die meeste van hierdie leerlinge se epilepsie effektief deur medikasie beheer word. Daar is egter wel leerlinge wat steeds epileptiese aanvalle kry, van hulle op ‘n daaglikse basis.

Gelukkig het die skool twee verpleegsters, asook agt terapeute in diens.

Hulle, en meer as die helfte van die onderwysers het vlak 1 en 2 noodhulp kwalifikasies en weet hoe om elke kind by te staan.

As deel van hierdie jaar se veldtog, het al die personeel een dag pers klere gedra, aangesien ‘n pers strikkie internasionaal vir epilepsie bewusmaking gebruik word.

Daar is ook elke dag ‘n pers kers in die voorportaal aangesteek.

Die kinders met epilepsie het elkeen ‘n pers ballon gekry om huis toe te neem, om sodoende bewusmaking na die ouers uit te brei.

Suzilda sê baie van hul skool se leerlinge verstaan nie wat epilepsie is nie en veral die ouer lyers voel skaam daaroor.

Derhalwe poog die skool om gereeld met die kinders oor epilepsie te gesels.

Volgens Epilepsyawareness.co.za word epilepsie as ‘n versteuring van die sentrale senuweestelsel (neurologies) geklassifiseer waar abnormale brein aktiwiteit aanvalle, of tydperke van ongewone gedrag, sensasies en somtyds ook bewusteloosheid kan veroorsaak.

Enigeen kan epilepsie ontwikkel, ongeag van ras, geslag, agtergrond of ouderdom.

Die webtuiste, epilepsy.org.za bevat ‘n magdom feite, ondersteuningsmateriaal en kort opvoedkundige video’s met betrekking tot epilepsie.

Beide webtuistes is dit eens dat epilepsie 1 uit elke 100 Suid-Afrikaners raak. Gaan besoek gerus die webtuistes om meer kennis in te win oor hierdie toestand wat wêreldwyd byna 50 miljoen mense raak.

Suzilda het ‘n paar belangrike wenke gegee wat mense kan doen, sou iemand ‘n epileptiese aanval in hul nabyheid kry. Die belangrikste is om kalm te bly.

Help die persoon deur te sorg dat hy/sy op sy/haar sy lê en dat hul vrylik kan asemhaal. Hou aan om rustig met die persoon te praat.

Die meeste aanvalle is gou verby, maar sou dit langer as ‘n paar minute duur of erger word, kry mediese hulp.

Sy sê by die skool laat hulle die kinders bietjie rus na so ‘n aanval alvorens hul dan weer met die normale skooltake voortgaan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button