NewsNews

Dagga-akademie: Hier sal jy leer hoe om dagga (en tamaties) te plant

VEREENIGING. – Die Vaaldriehoek se eerste “dagga-akademie” – ’n eerste op die vasteland van Afrika, sal op 1 April vanjaar sy eerste studente inneem – en dit is geen grap nie!

Die kampus is op 27 Februarie bekend gestel.
Daggaplant: illustrasiefoto
Volgens Clinton Birch, uitvoerende hoof en mede-stigter van Cheeba Africa, ‘n sogenaamde dagga-opvoedingsmaatskappy, is daar baie heropleiding nodig ná die jarelange verbod op dagga waartydens die plant taboe was en gebruikers daarvan erg gestigmatiseer is.
Met veranderende wetgewing (die privaatgebruik van dagga is onlangs gedekriminaliseer) is daar nou ’n behoefte om meer oor die eens verbode onderwerp te leer.
Hy sê studente aan die akademie sal alles van dagga leer; van hoe om dit te kweek tot die mediese voordele van die plant.
Volgens Birch is daar selfs kursusse oor die medisinale gebruik van dagga wat mediese praktisyns as deel van hul voortgesette mediese opleiding sal kan bywoon om hul lisensie en sertifisering te behou.
Of jy nou dagga op ‘n kleiner of industriële skaal wil kweek, die akademie bied unieke leergeleenthede, meen Birch.
“Daar word ook sterk klem gelê op landbou, so as jy aan die einde van die kursus nie ‘n tamatieplantjie (‘n metgeselplant wat dikwels vir plaagbeheer gekweek word) kan plant nie, sal jy ook nie slaag nie,” vertel hy.
Volgens Birch is die Vaaldriehoek as die ligging vir hierdie akademie gekies aangesien dit naby aan die stad is (sowat 40 minute suid van Johannesburg) maar ook ‘n rustige atmosfeer langs die Vaalrivier bied wat bevorderlik is tot leer.
Die nuwe akademie is geleë by die ou Maccauvlei-akademie (deesdae PSL Training) wat voorheen ’n opleidingsakademie vir die mynboubedryf was.
Met verwysing na die Vaaldriehoek se industriële geskiedenis het Birch gesê daar is groot potensiaal vir sekere industrieë in die Vaaldriehoek om te transformeer en saam met die ontluikende dagga-industrie te groei.
Hy sê daar is byvoorbeeld reeds gesprekke met ‘n plaaslike baksteenvervaardiger om bakstene uit hennep (‘n Cannabis sativa plantspesie wat spesifiek gekweek word vir die industriële gebruike van sy afgeleide produkte) te vervaardig.
Birch sê die akademie is geleë in ‘n gebied waar daar baie mynhope is wat met behulp van hennep-plantasies gerehabiliteer kan word. Daar is ook lesingslokale, ‘n ouditorium wat 120 mense kan akkommodeer en kampusverblyf.
Volgens Birch bestaan die akademie reeds die afgelope agt maande as ‘n aanlyn-akademie waar klasse met behulp van Zoom-vergaderings aangebied is.
Volgens Birch word tussen 20 – 40 studente vir die eerste inname verwag. Daar is kampusverblyf vir ongeveer 190 studente en volgens Birch hoop hulle om die volgende vier tot vyf jaar getalle van tussen 300 – 400 studente te hê.
Volgens Linda Siboto, mede-stigter van Cheeba Africa, is daar ook ‘n studiebeurs wat ter nagedagtenis aan die dagga-pionier, Julian Stobbs (van die “dagga-egpaar”) gestig is vir voorheen benadeelde kandidate met ‘n passie vir die wettige kweek van dagga.
Stobbs is verlede jaar tydens ’n rooftog naby Lanseria buite Johannesburg doodgeskiet. Die studiebeurs dek studiegeld, losiesgeld en verblyf vir die vier maande lange voltydse “Cannabis Industry 101”-kursus, wat selfs ‘n internskap van een maand insluit. Laasgenoemde kursus word volgens Siboto deur die Universiteit van Limpopo onderskryf.
Siboto sê: “Deur strategiese vennootskappe met die Vaal Universiteit van Tegnologie (VUT) se navorsingsvennoot vir cannabis, ICBT Cannabis Research Division / Cannabisness (Edms.) Bpk. en die naburige SAHPRA-gelisensieerde cannabisplaas, bied ons studente blootstelling tot uiteenlopende werkomgewings in die cannabis-bedryf.”
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gugulethu Kgongoane

Gugulethu Kgongoane is the Online Editor of Sedibeng Ster. Email: gugu@mooivaal.co.za She is also an online journalist of Vaalweekblad. Email: gugu@mooivaal.co.za
Back to top button