
Eerste gepubliseer in Vaalweekblad van 10 Maart 2021
Retha Fitchat
MEYERTON. – Vir mev. Sonja Oosthuizen (25) van Riversdale het 2020 nie net die ontwrigtende inperking meegebring nie. Op 9 Junie verlede jaar is sy boonop met gevorderde Hodgkin se limfoom, longkanker, lewerkanker en ‘n disfunksionele hart wat net 56 persent funksioneer, gediagnoseer.
Na agt siklusse chemoterapie het sy en haar gesin gehoop dat die kanker in remissie sou gaan, maar ongelukkig is sy een van ‘n handjievol mense vir wie dié soort behandeling nie geslaagd was nie. Medici plaas hul hoop nou op bestralingsterapie, maar dit is riskant omdat Sonja reeds ‘n ernstige hartprobleem het. Spesiale voorsorg sal getref moet word om haar hart tydens die radio-aktiewe bestraling te beskerm.
Haar mediese ondersoeke word by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto gedoen, maar sy sal die bestraling by die Charlotte Maxeke Algemene Hospitaal in Johannesburg ontvang.Sonja wat voorheen onder andere fiksheidsklasse aangebied het, se man Braam is tans die enigste broodwinner. Geldelik gaan dit swaar. Haar siekte bring heelwat uitgawes mee, soos medikasie en reise tussen Meyerton en die twee Randse hospitale.
“Sonja moes aanvanklik een of twee keer per maand na Baragwanath toe ry, maar nou is dit amper elke dag,” sê Braam. “Sy veg al byna ‘n jaar. Sy is tydens die Covid-grendeltyd opgeneem en moes al soveel alleen deurmaak. Ek het gevoel of ek haar in die steek gelaat het in tye wat sy my die nodigste gehad het, maar ek is nie toegelaat om daar te wees deur al haar pyn en vrees nie. Ek werk harde, lang ure om haar en ons kinders te onderhou. My gesin is alles in my lewe,” sê Braam.
Hy probeer nou finansiële hulp deur Back-a-Buddy kry omdat hy eenvoudig nie meer al die geldelike verpligtinge kan bykom om sy vrou deur hierdie krisis te dra nie.
“Sonja is moeg. Sy is broos en gestres. Tog is sy een van God se dapperste soldate. Ek het haar nodig, maar ons kinders het haar selfs meer nodig. Ek samel fondse in vir haar reisrekeninge en voorgeskrewe medisyne waarvoor ons moet betaal. Die gevolge van die kanker en newe-effekte van die chemoterapie het haar van haar selfvertroue en selfrespek beroof. Dit het letsels gelaat waaroor sy baie selfbewus is. As daar enigiemand is wat dalk hiermee kan help, sal ek dit geweldig op prys stel,” sê Braam.
Sonja sê sy is baie dank verskuldig aan haar suster en ouers, Mike en Adri Exalto, vir al hul hulp met die twee kleingoed, Sonlia (4) en Aubrey (21 maande), na wie hulle omsien wanneer sy behandeling kry. Sy is die afgelope jaar reeds deur verskriklike pyn, soos beenmurgtoetse wat sonder verdowing gedoen is. Nóg ‘n groot seer was dat sy haar seuntjie se eerste verjaardag moes misloop omdat sy in die hospitaal was.
Enigiemand wat die gesin met ‘n skenking of hulp van enige aard wil bystaan, kan Braam en Sonja by 061 297 6547 kontak.
Donasies kan in die volgende rekening inbetaal word: Rekeninghouer: Sonia Oosthuizen, Bank: FNB / RMB, Rekeningtipe: FNB goue tjekrekening, Rekeningnommer: 62822593035, Takkode: 250655.
HOOFFOTO: Sonja Oosthuizen met haar kinders, Sonlia (4) en Aubrey (21 maande).






*********************************************************************************************************************************
