Glo dit of nie, maar deesdae word daar al skoene van plantmateriaal, soos blare, gemaak.
Skoene word oor die algemeen gemaak van leer, met ander woorde een of ander diervel, óf van kunsleer, d.w.s. nagemaakte leer met min of meer dieselfde eienskappe as egte leer.
Die nadeel van egte leer kom by die looiery daarvan.
Om dit sag en bruikbaar te hou, word dit gelooi, met ander woorde geskraap, onthaar en met chemikalieë soos skadelike chroomsulfaat en sink behandel.
Daarbenewens word diere op groot skaal oral in die wêreld geslag net vir die huide en nie vir die vleis nie. Dink maar aan slang- en krokodilleer.
Die algemeenste kunsleer is een of ander vorm van plastiek uit ru-olie en dit is die grootste besoedelaar op aarde.
Dit vergaan nie soos plantmateriaal nie, en wanneer dit uiteindelik afbreek, beland mikro- en nanogedeeltes plastiek in die lug of in die menslike voedselketting, veral in visse uit die besoedelde oseane.
Sowat 80% van die gemors in die oseane is plastiek. China voorsien 90% van die wêreld se skoene, hoofsaaklik vervaardig uit petroleumgebaseerde kunsleer.
Om kunsleer van plante te maak, is ‘n nuwe, opwindende, ekologies-vriendelike manier om met grondstowwe te werk.
Nie alleen word daar 99% minder water gebruik nie, maar geen skadelike chemikalieë word ook in die verwerkingsprosesse gebruik nie.
Bowendien, as dit verslyt, word dit gewoon kompos.
Maar hoe maak jy nou leer van pynappelblare?
Die vesels van die blare word losgetrek deur boere in die Filippyne.
Die vesels word daarna in Spanje gewas en in die son gedroog. Dan word dit saamgepers en met pigmente gekleur. Daarna word dit waterdig gemaak met ‘n harsagtige lagie.
Benewens pynappelblare is ou mango’s en die kern en skille van appels ook gewild.
Laasgenoemde is natuurlik ‘n afvalproduk van appelsap en spotgoedkoop. Kurk is ook baie gewild. Net die bas van die boom word gebruik, en die boom vorm weer bas en haal boonop koolsuurgas uit die lug.
Die sole van skoene bly egter nog ‘n probleem. Meestal word rubber of plastiek gebruik, want die materiaal uit plante is minder duursaam.
Herwonne plastiek en ou motorbande word dan ook verwerk en deur sommige vervaardigers gebruik.
Natuurlike lateksrubber, afkomstig van die rubberboom, word egter verkies bo petroleumgebaseerde rubber.
Kokosneutvesels word soms vir die binnesole gebruik. Ook flas, wat al eeue gelede deur die Egiptenare gebruik is vir kledingstowwe, word ingespan.
Onlangs het Adidas ook begin om skoene en klere van herwonne plastiek uit die oseane te maak.
Adidas is ook ‘n aktiewe teenstander van kinderarbeid en sorg goed vir al sy werkers.
Hulle werk tans aan ‘n volledig herwinbare hardloopskoen.
Nee, ons loop nog nie op blare nie, maar dalk binnekort.
Die industrie in veral Nederland en Frankryk om plantaardige skoene te maak, is werklik nog in sy kinderskoene.
Ons kan maar net sê: Stap voort! Stap door! Marcher sur!
Lees verder: https://www.healthing.ca/wellness/small-plastic-fragments-found-in-placentas
https://www.voordewereldvanmorgen.nl/artikelen/en-verkoopt-schoenen-van-ananasleer
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

