News

Hondjie verdwyn na heldedaad

Groot hartseer nadat Bubbles, die hondeheld, vandag weggeraak het.

 

Retha Fitchat

Vaalweekblad het onlangs ‘n berig gepubliseer oor ‘n slim Chihuahua-reuntjie, Bubbles, wat sy mensouers kom roep het nadat ‘n dief by hulle ander huis ingebreek het. Nou is daar groot hartseer in die Augostines se huis nadat Bubbles vandag (6 April) verdwyn het. Enigiemand wat hom opmerk in CW5 of CW6 of in die omgewing van Vaal Mall word gevra om asseblief vir Chantel Augostine te skakel by 074 971 7806 of 065 347 7334.

 

Hier is die berig wat onlangs in Vaalweekblad verskyn het nadat Bubbles sy mensgesin gaan waarsku het dat ‘n dief besig was om in te breek:

Hondeheld Bubbles ‘roep’ gesin na misdaadtoneel

“Moet nooit julle hondekinders se intelligensie onderskat nie. Hulle verstaan dinge beter as wat mens dalk dink.”

Só sê mev. Chantel Augostine nadat Bubbles, haar opregte blou Chihuahua van sowat vyf jaar oud, hulle kom “vertel” het dat ‘n misdadiger besig was om by hul huis in te breek.

“Ons het onlangs van my pa se huis in Kipling-straat, CW6, na ‘n nuwe huis so ‘n kilometer verder naby Vaal Mall, getrek. Omdat my pa se huis in daardie stadium leeg gestaan het, het ons Bubbles bedags daar gaan aflaai om die huis en erf op te pas. “Verlede Sondag, so teen 16:00 die middag, kom Bubbles by ons nuwe huis aan. Hy was slim genoeg om oor die gevaarlike Barrage-pad te draf en ons hier te vind. Ons het dadelik uit sy optrede afgelei dat hy ons dringend kom soek het om iets vir ons te ‘vertel’. Ons is onmiddellik na my pa se huis, waar ons gesien het dat die agterdeur oopgebreek is.   “Ons betrap die inbreker toe op heter daad, besig om ons huis se krane te steel. Hy het dadelik gevlug en is steeds op vrye voet,” sê sy.

Hoewel die verdagte weggekom het sonder om veel te steel, het hy groot skade aangerig. Hy het ook die plafon oopgemaak en drade gesteel wat vervang sal moet word. Hulle versoek die publiek van die CW6-omgewing om op die uitkyk te wees vir die verdagte, ‘n langerige witman met ‘n volbaard en snor.

“Ons is so dankbaar dat Bubbles ons betyds kom roep het, anders was ons skade waarskynlik heelwat groter. Mamma se grootseun is dalk net ‘n klein hondjie maar hy het die hart van ‘n” sê Chantel. 

Chantel Augostine met Bubbles, haar hondeheld. Danksy die hondjie se ‘boodskap’ kon die Augostines betyds optree om ‘n inbreker uit hul pa se huis te verjaag. Die hartseer nuus is dat Bubbles vandag verdwyn het en sy ounooi se hart is gebreek.

   

 *********************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button