News

Fratsongeluk: Trok se los wiel dood motorfietsryer

Die begrafnis/roudiens van Barry vind plaas op Dinsdag 13 April 2021 om 15h00. Plek: Lede in Christus Kerk, Italeni str 16, Sasolburg. Geen kransies nie asb. Vir die wat wil, net 'n donasie vir die kerk.

Gepubliseer in Vaalweekblad van 7 April 2021

SASOLBURG. – ‘n Bekende motorfietsryer van die dorp, mnr. Barry Engelbrecht (37), het verlede Saterdagaand in die hospitaal gesterf nadat hy vroeër die middag op die R59-snelweg deur ‘n trok se wiel wat losgekom het, van sy fiets afgeslaan is.

Volgens sy pa, mnr. Nico Engelbrecht, het die fratsongeluk naby die Ascot-on-Vaal-afrit plaasgevind toe Barry op pad huis toe was nadat hy die middag by ‘n vriend in Meyerton gekuier het.

“Ons verneem die trok het van Sasolburg se kant af op die R59 gery toe twee dubbelwiele aan die linkerkant losgekom het. Een van die wiele het tussen die trok en die padversperring bly hardloop, maar die ander wiel het met rim en al oor die middelmannetjie geskiet en Barry, wat in die teenoorgestelde rigting gery het, met geweld aan die regterkant getref,” sê sy pa.

Barry is van sy fiets afgeslaan en die vergasser en bakwerk (body kit) van sy Suzuki Hayabusa is heeltemal afgeskeur voordat dit teen die padversperring tot stilstand gekom het. Barry het inwendige beserings en verskeie beenbreuke opgedoen.Volgens omstanders was hy op die ongelukstoneel nog by sy bewussyn en kon met die paramedici praat.

“Van Barry se vriende van Mac’s Motorfietsklub het ons so twintig minute na die ongeluk kom vertel wat gebeur het. Ons is dadelik na die toneel, maar hy was toe reeds per ambulans na Mediclinic Vereeniging geneem,” sê mnr. Engelbrecht.

Barry se ouers en vriendin is ook hospitaal toe, maar hulle kon hom nie sien nie omdat die ongevallepersoneel steeds met noodbehandeling besig was. Toe ‘n dokter die ouerpaar inroep om met hulle te praat, het hulle aanvanklik gedink dat reëlings bespreek gaan word om Barry na ‘n ander hospitaal toe oor te plaas. Hulle het egter die skoktyding gekry dat hul enigste seun aan sy beserings gesterf het.

Buiten sy pa word Barry ook oorleef deur sy ma, mev. Margaret Engelbrecht, sy vriendin Mandy Klopper, haar dogtertjie Mienke en sy twee susters, Karien Maré en Ansie Coetser, wat albei in Australië woon.

* Barry is op 19 April 1983 in Bethal gebore en het as kind saam met sy ouers na Sasolburg verhuis. Hy het aan die HTS Sasolburg skoolgegaan waarna hy hom as meganiese tegnikus bekwaam het. Hy het onder andere in Botswana gewerk voordat hy ‘n pos by Omnia in Sasolburg aanvaar het.

“Hy was ‘n baie positiewe en spontane soort mens met ‘n tipe karakter wat mense maklik na hom toe aangetrek het,” sê sy pa. Lede van Mac’s Motorfietsklub, waaraan Barry ook behoort het, het Sondag ‘n houtkruis op die ongelukstoneel gaan plant en op die klub se tradisionele manier hul laaste eer aan hul geliefde vriend betoon.

BEGRAFNISREëLINGS: Die begrafnis/roudiens van Barry vind plaas op Dinsdag 13 April 2021 om 15h00. Plek: Lede in Christus Kerk, Italeni str 16, Sasolburg. Geen kransies nie asb. Vir die wat wil, net ‘n donasie vir die kerk.

Wyle Barry Engelbrecht (37), wat verlede Saterdag gesterf het nadat hy op sy motorfiets deur ‘n trok se wiel wat losgekom het, getref is.
Die wrak van die motorfiets wat deur die los wiel getref is.Die wrak van die motorfiets wat deur die los wiel getref is
Die houtkruis wat deur Barry se vriende op die ongelukstoneel geplant is.

***************************************************************************

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button