Vir Irene Britz van Vanderbijlpark is haar werk ‘n groot lekkerte, want sy kom heeldag in aanraking met honde. Haar besigheid bestaan uit twee sleepwaens wat aangepas is om honde te bad en te skeer by hul eienaars se huise.

Irene is baie lief vir honde en geniet dit om met hulle te speel. “Dis die lekkerste gedeelte van my werk, om eers met die honde te speel, voordat ons hulle bad.”
Die sleepwaentjie het eers aan haar ouboet, Phillip Prinsloop behoort. Hy het vir jare die besigheid in Mandini, KwaZulu-Natal gehad. “Ek het altyd saam met hom gegaan as ons daar gaan kuier het, juis omdat ek so gek is oor honde. In die proses het ek baie by hom geleer”, vertel sy. “Toe hy ophou, het ek die waentjie by hom oorgekoop. Dis nou vier jaar later en ons kon onlangs nog ‘n groter sleepwa aanskaf.”

Die sleepwaentjies is goed ingerig en die honde word met warm water gewas wat deur geisers op die waentjies hardloop. Daar is ook nou al ‘n skeer-stasie bygebring. Die honde word voorwaar bederf in hulle eie spa by die huis.
“Ons het al heelwat gereelde viervoet-kliënte en die meeste is baie bly om ons te sien. Daar is natuurlik altyd een of twee wat nie van bad hou nie, maar hul eienaars weet al om hul betyds te keer, anders gaan kruip hul weg. ‘n Hond is ook maar soos ‘n kind, onvoorspelbaar. Die meeste is opgewonde om ons te sien,” lag sy.
Irene en haar span gaan help ook so tweemaal ‘n jaar om honde te was en te skeer by VaalPets. “Alle honde lê my na aan die hart en dis vir ons lekker om ook die honde by VaalPets te bederf.”
“Ons versorg alle honde, maar bad nie katte nie. Ek het dit probeer en het na die tyd gelyk asof iemand my met ‘n rasper bygekom het”, sê Irene.
Sy self het vyf honde wat sy as haar viervoet kinders beskou. “Die twee Rotweilers dink hulle is klein en die Jack Russels dink hulle is groot. Die worshond regeer die huis,” som sy die situasie op en lag weer lekker.
Mense kan maar weet hul honde is in goeie hande as Die Vlooi & Bosluis Taxi by hul huise stop.
