News

Vyf NWU-studente op borgtog ná Vanderbijlpark-moord

Vyf universiteitstudente wat van moord aangekla word, is op borgtog vrygelaat nadat die hof gehoor het hoe ’n ontmoeting in die straat en ’n mislukte poging om die vroue te vra om uit te gaan, tragies geëindig het.

VANDERBIJLPARK – Vyf vroulike universiteitstudente wat van moord aangekla word, is elk vroeër vandag tydens ’n formele borgtogaansoek in die Vanderbijlpark-landdroshof op R1 500 borgtog vrygelaat.

Die beskuldigdes, Masego Tswai, Nomathemba Motlomelo, Bonolo Motsela, Katlego Machobane en Tebello Finger, het voor die hof verskyn terwyl ouers en vriende die verrigtinge bygewoon het.

Hulle staan tereg op ’n Bylae 5-moordklag.

Tydens die verrigtinge het die ondersoekbeampte, Daniel Mokone, aan die hof gesê die voorval het begin toe die oorledene en sy neef die vyf vroue en ’n man in Vanderbijlpark teëgekom het.

Volgens die oorledene se neef het ’n konfrontasie ontstaan nadat die twee mans die groep genader en probeer het om die vroue te vra om met hulle uit te gaan. ’n Geveg het na bewering ontstaan waartydens die oorledene in die nek gesteek is.

Hoewel die staat aangevoer het dat hy ’n sterk saak het met getuies wat die verdagtes direk met die misdaad verbind, het die aanklaer nie borgtog teengestaan nie.

Die hof het gehoor dat al vyf verdagtes se adresse geverifieer is, dat hulle geen vorige veroordelings of uitstaande lasbriewe het nie en dat hulle studente aan die Noordwes-Universiteit se Vanderbijlparkkampus is.

Die landdros Norman Wessels het elk van die studente op R1 500 borgtog vrygelaat, met streng voorwaardes. Hulle moet een keer per week by hul plaaslike polisiestasie aanmeld en mag geen kontak met enige van die getuies hê nie.

Wessels het hulle ook ernstig berispe.

“Ek versoek julle om julleself nie in gevaar te stel nie. Om op borgtog vrygelaat te word, gee julle die geleentheid om vir ’n saak voor te berei,” het hy gesê.

NWU-se woordvoerder Louis Jacobs het in reaksie op die voorval gesê: “Dit is ’n polisiesaak en ons kan nie kommentaar lewer nie.

Alle interne prosesse teen die studente het reeds begin. Alle sake waar ons studente na bewering hulself aan oortredings skuldig gemaak het, word in ’n baie ernstige lig beskou. Indien hulle skuldig bevind word, sal hulle die gevolge moet dra.”

Die moordsaak is na die Streekhof oorgeplaas en die vyf vroue moet weer op 24 November in die hof verskyn.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button