HealthNews

Groot operasie vir Vaalweekblad se klein wedstrydwenner

Melienke is tans weer in die Clinton-hospitaal in Alberton, waar 90% van haar dikderm verwyder is.

VANDERBIJLPARK. – Vaalweekbladlesers het klein Melienke Swart (8 maande) verlede maand ontmoet toe sy as wenner van Afdeling A in die jaarlikse Baba- en Kleuterwedstryd aangewys is. Min lesers sou kon raai dat dié dogtertjie met haar vriendelike glimlag, aan ‘n ernstige aangebore toestand ly en in haar kort lewe reeds lang tye in hospitale moes deurbring.

Melienke is tans weer in die Clinton-hospitaal in Alberton, waar 90% van haar dikderm verlede week verwyder is.

Sy ly aan Hirschsprung se siekte, ‘n toestand waar afwesige senuweeselle in die spiere van haar grootderm veroorsaak het dat sy nie normaal kon ontlas nie. Melienke is op 21 Julie 2020 in Cormed gebore en moes kort daarna ‘n kolostomiesakkie tydens haar eerste operasie kry.

Met verlede Vrydag se operasie is haar ingewande sodanig aangepas dat sy van nou af hopelik sonder ‘n sakkie sal kan klaarkom. Melienke is die enigste kind van Danie en Cynthia Swart van Vanderbijlpark. Met hul troue in 2015 het hulle gehoop om eendag ‘n huis vol kinders te hê, maar dit het toe nie so uitgewerk nie. Na jare van vrugbaarheidsbehandeling en teleurstellings moes hulle uiteindelik medici se nuus aanvaar dat dit byna onmoontlik vir Cynthia sou wees om normaal swanger te raak.

“Ons het dit in die Here se hande gelos en geglo dat Hy op die regte tyd vir ons ‘n kind sou gee,” sê Cynthia. In November 2019 het sy ‘n slegte brongitis opgedoen en ‘n voorskrif vir antibiotika gekry. Cynthia, ‘n opgeleide kraamsuster, het terselfdertyd ‘n swangerskaptoets by die apteek gekoop om seker te maak sy is nie dalk verwagtend voordat sy die medikasie begin gebruik nie. Die toets was positief.

“Ek is dadelik terug apteek toe en het sommer drie swangerskaptoetse gaan koop net om seker te maak. Almal was positief! Ons was so dankbaar en bly oor dié wonderwerk,” sê Cynthia.

Die swangerskap het normaal verloop en Melienke is op 21 Julie 2020 gebore. Cynthia was pas terug by die huis toe sy besef het iets is ernstig verkeerd met hul dogtertjie. Melienke wou nie drink nie en het net heeltyd geslaap. Wanneer sy wel ‘n bietjie gedrink het, het sy alles weer uitgebraak. Na ‘n noodafspraak by ‘n pediater is sy in Emfuleni Mediclinic opgeneem waar sy 10 dae in die intensiewe sorgeenheid gelê het voordat sy na ‘n hospitaal in Alberton oorgeplaas is.

Alle moontlike toetse is gedoen om vas te stel wat die probleem is, en uiteindelik is sy met Hirschsprung se siekte gediagnoseer – ‘n toestand wat dadelik ‘n operasie van 2 en ‘n halfuur vereis het om vir Melienke ‘n kolostomie te gee.

“Dit was lockdown en geen besoeke is in die pediatriese intensiewe sorgeenheid toegelaat nie. Ek kon haar glad nie sien nie. Een van die ergste dinge vir my was om daagliks Alberton toe te ry met my borsmelk in ‘n botteltjie, wat ek dan vir die sekuriteitsman buite die hospitaaldeur moes gee om vir die suster te neem. Ek moes dan net daar omdraai en huis toe gaan,” onthou Cynthia.

Verdere beproewings het in die volgende weke gevolg. Melienke het baie bloed tydens die operasie verloor en moes kort daarna ‘n dringende bloedoortapping kry. Sy moes ook ‘n lumber punch kry omdat daar vermoed is dat sy breinvliesontsteking onder lede gehad het. Daarby was haar handjies en armpies al so voos gesteek deur voedingsbuisnaalde dat ‘n direkte binneaarse voedingslyn onder operasie ingeplaas moes word. Die kolostomie-sakkie wat nie goed gedreineer het nie, moes ook tydens die operasie geherposisioneer word.

Op 17 Augustus verlede jaar is Melienke uiteindelik na ‘n gewone saal verskuif, waar Cynthia weer by haar toegelaat is. Die goeie nuus was dat die kolostomiesakkie na ‘n paar maande verwyder sou kon word as Melienke bietjie groter en sterker was. Dié omkering sou in Januarie vanjaar gedoen word, maar moes vyf keer uitgestel word, onder andere omdat Melienke en Cynthia albei Covid-19 opgedoen het.

Melienke maak tans goeie vordering in die hospitaal, maar dit is nog nie bekend wanneer sy ontslaan sal kan word nie. Danie en Cynthia ry steeds daagliks Alberton toe om haar te besoek. Hoewel Melienke 90% van haar dikderm verloor het, is haar prognose goed, maar sy sal moontlik lewenslank ‘n spesiale dieet moet volg en dalk langer as ander kinders neem om “gepotty-train” te word, sê Cynthia.

* Weens die swak ekonomie het Danie sy werk as semi-vaardige ketelmaker verloor. Enigiemand wat dalk ‘n werksgeleentheid vir hom het, kan hom kontak by 082 064 1511. Die egpaar het tans groot mediese uitgawes sowel as reiskoste. Enigiemand wat hulle met ‘n bydrae wil bystaan, kan dit inbetaal by C. Swart, Capitec Savings Account, 1646018360.

Melienke soos wat sy in Vaalweekblad se afgelope Baba- en Kleuterwedstryd gelyk het. Foto: Chilli PicNic
Melienke Swart, hier saam met haar ma, Cynthia, na verlede week se operasie in die Clinton-hospitaal in Alberton.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button