Totsiens René Coetzee – Rus in Vrede
Ons innigste simpatie aan René Coetzee se familie, kliënte en vriende.
VANDERBIJLPARK. – René Coetzee, ‘n bekende Meditrust adviseur in die Vaaldriehoek is op 13 April 2021 aan Covid-19 oorlede. Nadine Herbst het haar goed geken en het die volgende geskryf ter gedagtenis aan René.
“René Coetzee het ons geleer dat die dood kan nie onsterflike dinge, soos liefde, dood maak nie. Die dood kom op dieselfde wyse tot ons almal en maak ons almal gelyk wanneer dit kom. Na ‘n intense twee weke het ons besef dit maak nie saak hoe lank sy gelewe het nie, maar wel HOE sy gelewe het.
Haar karakter was die beste manier om mense te oortuig. Sy het die lewe as ‘n avontuur beskou en so die beste uit die lewe gekry. Die kennis wat René gedeel het van liefde, lig en visie was van onskatbare waarde gewees vir die wat haar lief het.
Elke kliënt was kosbaar vir René en het haar vriende geword. Sy het haar credo uitgeleef! René het so geleef dat ons vandag net die waarheid oor haar kan skryf.
Gelukkig is herinneringe gestolde tyd, en dit maak die berig soveel makliker. Ons het geleer om nie meer tyd te mors nie, want dis al wat ons het. René wou die wêreld verander. Sy het groot dinge gedoen en groot dinge verwag! Sy het geweet sukses is n reis, en nie n bestemming nie.
Haar sukses het bestaan deur klein oorwinnings elke dag, want sy het geweet hoe om haar gewone werk buitengewoon goed te doen. Sy het haar kinders geleer hoe om lief te hê, deur hulle lief te he. Sy het ons almal geleer dat deur lief te he kan jy die onmoontlike glo.
Ons gaan jou mis René, en soos wat die yskoue wind nou waai, waai die oranje blare van die boom af. Fly for ever high.” René se begrafnisdiens vind plaas op 19 April 2021 om 11:00 vanuit Kompas gemeente. Die diens kan aanlyn gevolg word deur ‘n skakel wat op Meditrust se Facebook blad beskikbaar sal wees.
