News

En in die gat, was daar ‘n boom…

Verkeer is dae lank erg ontwrig omdat die mangat, waarvan die deksel gesteel is, feitlik in die middel van die pad is en groot gevaar kon inhou as ‘n voertuig se wiel daarin sou beland.

VANDERBIJLPARK. – Inwoners van The Links, ‘n deftige meenthuiskompleks digby die Emfuleni-gholflandgoed, moes van verlede Donderdag tot Maandag letterlik hul neuse toeknyp nadat ‘n blokkasie in die groot rioolpyp digby die Checkers-sentrum, ‘n reuse-riooloorstroming in die gebied veroorsaak het.

Rou riool het sedert verlede Donderdag by ‘n mangat in die verlenging van Frikkie Meyer-boulevard langs Checkers uitgeborrel en in ‘n dik stroom oor die pad en in ‘n kanaal voor The Links verbygestroom.

Verkeer is dae lank erg ontwrig omdat die mangat, waarvan die deksel gesteel is, feitlik in die middel van die pad is en groot gevaar kon inhou as ‘n voertuig se wiel daarin sou beland. Van die inwoners het groot takke in die gat geplaas om motoriste te waarsku om betyds uit te swaai.

Die stinkende riooloorstroming is sedert Donderdag herhaaldelik deur The Links se voorsitter, Willem van der Westhuizen, Wyk 5 se raadslid, Phillip Nothnagel, en Klippies Kritzinger van die Golden Triangle Chamber of Commerce by die Emfuleni-munisipaliteit aangemeld, maar dit het vier dae geneem voordat die probleem Maandag opgelos is.

Inwoners van The Links sê die blokkasie in die rioolpypleiding is gelukkig nou oopgeblaas maar die sterk rioolreuk wat steeds in die lug hang, is genoeg om enige mens hoofpyn te gee.

‘n Sakeman het intussen die mangatdeksel vervang en laat vassweis, maar volgens mnr. Paul Schutte, ‘n inwoner van die gebied, het die groot busse wat gereeld die pad gebruik, die sweiswerk binne die eerste dag weer losgery. Dit is waarskynlik net ‘n kwessie van tyd voordat die nuwe deksel ook gesteel word, sê hy.

********************************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button